RIVERSDAL NUUS - Die moontlike verkoop en kommersiële ontwikkeling van 'n gedeelte van Jurischpark het 'n nuwe debat oor die toekoms van een van Riversdal se bekendste openbare ruimtes ontketen.
Terwyl sommige inwoners meen dat ontwikkeling nuwe ekonomiese geleenthede, werksgeleenthede en 'n broodnodige opknapping van die gebied kan meebring, waarsku ander dat die dorp 'n waardevolle groenruimte en deel van sy geskiedenis permanent kan verloor.
Die Hessequa-munisipaliteit het bevestig dat hy 'n aansoek van die verteenwoordiger van Dorpstraat Convenient Retail Investments (Edms.) Bpk. ontvang het om ongeveer 37 170 m² van Erf 2080 in Riversdal regstreeks aan te koop.
Die voorgestelde ontwikkeling behels 'n kommersiële winkelsentrum en residensiële wooneenhede.
Volgens die munisipaliteit is geen finale besluit nog geneem nie.
Die voorneme om die eiendom te verkoop, is ingevolge die toepaslike wetgewing in die Suid-Kaap Forum van 17 Julie 2026 gepubliseer en die openbare deelnameproses is tans aan die gang.
Inwoners kan tot Vrydag 21 Augustus skriftelike besware, kommentaar, vertoë of alternatiewe voorstelle indien.
Ondersteuners van die ontwikkeling voer aan dat 'n nuwe kommersiële sentrum ekonomiese groei kan stimuleer, werksgeleenthede kan skep en meer geriewe vir inwoners kan bied.
Sommige meen ook dat dele van Jurischpark oor tyd verwaarloos geraak het en dat ongewenste gedrag, alkoholmisbruik en dwelmgebruik, veral saans en oor naweke, die park se beeld geskaad het.
Teenstanders meen egter dat swak bestuur en onvoldoende instandhouding nie 'n rede behoort te wees om 'n openbare bate te verkoop nie.
Hulle voer aan dat beter sekuriteit, onderhoud en toerisme- of ontspanningsontwikkeling die park kan verbeter sonder dat die munisipaliteit eienaarskap daarvan prysgee.
Die VF Plus het intussen 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om geen finale besluit te neem voordat onafhanklike hidrologiese-, stormwater-, verkeers-, ekonomiese-, omgewings- en erfenisstudies voltooi is nie.
Volgens die party kan die ontwikkeling verhoogde stormwater- en oorstromings-risiko's meebring, 'n waardevolle groenruimte permanent verklein en 'n negatiewe uitwerking op Riversdal se toerisme- en erfeniswaarde hê.
Daar is ook kommer oor die moontlike invloed op bestaande ondernemings in die sakekern en die Riversdal-rolbalklub.
Die VF Plus stel voor dat alternatiewe, soos langtermynhuur, openbare-private vennootskappe en toerisme- en ontspan-ningsontwikkeling, oorweeg word.
Die party beklemtoon dat die proses deursigtig moet wees en dat die langtermynbelang van inwoners eerste gestel moet word.
Skrywer en subredakteur Emsie Martin skryf in haar boek, Riversdal en sy mense Deel 1:
Jurischpark se geskiedenis strek byna 'n eeu terug.
Hier is net 'n paar punte op die park se tydlyn:
• Die terrein was in die 1920's 'n vullishoop voordat TKK Jurisch gehelp het om dit in 'n park te omskep.
• Die raad het in 1928 besluit om die nuwe park na Jurisch te vernoem.
• Die park is in 1963 amptelik as 'n natuurtuin verklaar en het so in die Staatskoerant verskyn.
• Heide, vygies, proteas en ander inheemse plante is op groot skaal aangeplant. Die destydse direkteur van natuurbewaring, dr. Douglas Hey, het gesê: "Hierdie klein tuintjie van Riversdal is een van die mooistes in Kaapland."
• In 1969 word daar wilde eende soos, geel- en rooibekeende, asook swart- en riviereende en bleshoenders op die park se dam aangetref.
• Die park was ook bekend vir openbare funksies.
• Dit huisves ook die Voortrekkermonument wat in 1988 opgerig is.
• Vorige ontwikkelingsplanne vir dele van die park dateer reeds uit 2003.
• In 2008 is 'n moontlike 99-jaar-huurtermyn vir ontwikkeling oorweeg, terwyl 'n gedeelte van die terrein in 'n vorige transaksie aan Meiprops (Edms.) Bpk. verkoop is.
Vrae bestaan steeds oor die status en uitvoering van daardie transaksie.
Die debat oor Jurischpark gaan dus oor meer as net grond.
Dit plaas ekonomiese ontwikkeling, openbare ruimte, erfenisbewaring en die dorp se toekomstige karakter teenoor mekaar.
Die openbare deelnameproses bied inwoners nou die geleentheid om hul stem te laat hoor voordat 'n finale besluit geneem word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’