HEIDELBERG NUUS - Een van dié dorp se mees bekendste inwoners, Paulina Esau, oftewel 'Juffrou Pollie' soos sy alombekend is, het Woensdag 25 Februarie haar 80ste verjaarsdag gevier.
Die besondere mylpaal het sy met twee van haar seuns, hul gades, kinders en kleinkinders, aan huis gevier.
Juffrou Pollie, 'n nooi Van Reenen, is in Riversdal as een van nege kinders van wyle Jacob en Paulina van Reenen gebore.
Sy het haar skoolloopbaan by St. Andrews kerkskool begin en daarna by Gerrit Du Plessis tot st. 8, nou gr. 10.
Daarna het sy haar onderwysloopbaan aan Athlone Opleidingskollege in Paarl begin en vir twee jaar tot 1964 studeer.
Sy begin in 1965 by Wadrif United Congregational Kerkskool, net buite Heidelberg.
In 1969 trou sy met Daniel Esau, bekende taxi-operateur wat haar in April 2012 na 43 jaar ontval.
Hulle het drie seuns en een dogter, waarvan haar tweede oudste seun ook al oorlede is.
Juffrou Pollie is ook ouma van nege kleinkinders en oumagrootjie van 12 agterkleinkinders.
Sy was vanaf Januarie 1971 by Krombeks-rivier NGK Primêr die hoof, tot sy in Desember 2001 op vervroegde pensioen gegaan het om na haar eggenoot om te sien.
Van haar 36 jaar in die onderwys het sy 30 jaar aan die omliggende plase se gemeenskap toegewy.
Die ystervrou, wat ook 'n toegewyde gelowige is, was sedert 1968 aktief by St. Barnabas Anglikaanse Kerk betrokke, waar sy eers as Sondagskoolonderwyser, koorlid, kerkraadslid, kerkvoog, lekeprediker en diaken diens verrig het.
Sy is ook 'n stigterslid van die Anglikaanse Vrouegenootskap. Sy is ook op 14 Desem-ber 2005 as assistentpriester in St. Marks Katedraal in George, georden.
Sy geniet nog goeie gesondheid en is nog steeds bedrywig as assistentpriester wanneer haar dienste benodig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’