Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp is die naweek diep geruk met die tragiese heengaan van 'n jongman wat tydens beurtkrag aan die hand van 'n skerp voorwerp gesterf het.
Die oorledene, Burton 'Ou Tand' Scheepers (24), 'n boorling van Atlantis, is glo Saterdagaand ná 'n stryery oor wyn deur 'n 25-jarige man verskeie kere gesteek.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, het die voorval ongeveer 23:15 in Andries du Toitstraat naby 'n bekende taverne gebeur.
Volgens omstanders het die oortreder die aand met die oorledene oor sy wyn skoorgesoek.
Scheepers is toe glo deur die man in Schierhoutstraat met 'n glas in sy gesig gekap en glo 'n paar keer met 'n mes gesteek. Hy het na sy losiesplek verder af in Andries du Toitstraat gestrompel en op die hoek by die Nuwe Apostoliese Kerk ineengestort.
Lizol Johannes, by wie Scheepers gebly het, vertel dat ene Sandra Roberts haar oor 'Ou Tand' ontferm het en hom daar op die hoek ondersteun het. "Hy het ongelukkig op die toneel in haar arms gesterf," het 'n duidelik ontstelde en hartseer Johannes gesê.
Johannes sê dat dit 'n tranedal Sondag tydens middagete was omdat Scheepers altyd sy maaltye so geniet het. Sy noem ook dat hy glo Vrydagaand aan 'n kennis genoem het dat sy hom ná 1 Februarie nie weer sal sien nie.
Volgens Johannes is dit nie die eerste keer wat die oortreder by 'n moordsaak betrokke is nie. Hy is glo 'n paar jaar gelede tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy 'n neef van hom doodgesteek het. Hy was destyds nog minderjarig.
Scheepers se pa, William, en sy suster, Surieda, het laat Sondagaand in Heidelberg aangekom. Hulle was Maandag by die hof net om te hoor dat die beskuldigde eers Dinsdag 13 Januarie sal voorkom.
Gepols oor hoe hy voel dat sy seun só tragies gesterf het siende dat sy seun uit Atlantis wou wegkom waar hy nie vry was om te beweeg nie, het William aangedaan benadruk dat hy hoop regverdigheid geskied en dat die oortreder lewenslank tronk toe moet gaan.
Vorige artikel: Jongman sterf nà messteek
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'