RIVERSDAL NUUS - ’n Groep kinders van die Sewendedagadventistekerk het verlede Donderdag ’n opvoedkundige besoek aan die Riversdal-polisiestasie afgelê om meer te leer oor die werk van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die daaglikse funksionering van ’n polisiestasie.
Die opgewonde groep is deur die waarnemende stasiebevelvoerder, kapt. Leonie Pothas, en ao. Hans Busch ontvang.
Hulle het die kinders op ’n toer deur die polisiestasie geneem en verduidelik hoe die verskillende afdelings funksioneer.
Die besoek het die kinders die geleentheid gebied om eerstehands te sien hoe polisielede die gemeenskap dien en beskerm.
Hulle het ook meer geleer oor die belangrike rol wat die polisie speel om wet en orde te handhaaf.
Pothas sê sulke besoeke vorm deel van hul voortgesette pogings om positiewe verhoudings met die jeug te bou en jongmense meer bewus te maak van die waardevolle werk wat die polisie daagliks verrig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’