Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Groot tragedie het hom Vrydag 7 Oktober, ongeveer 10:55 by die graansilo's buite die dorp afgespeel toe 'n werker in 'n silo vol graan beland en vermoedelik versmoor het.
Irvan Hopp (32) was 'n werker by Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) en pa van ses dogters, waarvan die jongste slegs ses maande oud is.
Familielede van Hopp, asook sy verloofde, Jesnay Theodore, was op die toneel met Suid-Kaap Forum se aankoms. Dit blyk dat hy sy balans verloor en deur 'n opening in die silo beland het.
Noodwerkers, die ambulansdienste en polisie was gou op die toneel.
'n Kollega van Hopp was erg deur die voorval getraumatiseer. Hy het Sondag vertel dat hy na Hopp probeer uitreik nadat hy sy balans verloor het en saam met die graan meegesleur is.
"Ek was bokant Irvan wat op daardie stadium al borshoogte in die graan vasgevang was. Hy het angstig aan my gesê om sy oom Ruiter, wat ook in die nabyheid was, te roep om my te help," het sy kollega steeds duidelik geskok gesê.
Die familie het hul kommer uitgespreek omdat daar klaarblyklik nie aan enige veiligheidswetgewing voldoen word nie. Vrae soos hoekom hy nie aan 'n harnas gekoppel was nie, is op die toneel gevra.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen. "Geen gemene spel word vermoed nie."
Buiten sy dogters en verloofde word Hopp ook deur sy twee susters en ouma oorleef.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 15 Oktober om 09:00 vanaf die huis in Michaelstraat 17, Joe Slovo Park en 10:00 vanuit die Duivenhoks-gemeenskapsaal plaas.
Vorige artikel: Jong pa smoor vertragies in graansilo
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'