Update
RIVERSDAL NUUS - Wie het nou gedink 'n uitstappie in jou eie dorp kan so jolig wees?
Sewe en twintig lede van Riversdal-tuinbouklub het die dorp op 10 April behoorlik ingevaar.
Yvonne Bokkelkamp was die eerste besoekpunt en lede is by die ingang na haar tuin deur pragtige rose verwelkom.
Bokkelkamp het 140 tipes rose wat sy by Ludwig's Roses aangekoop het en waarvan die meeste die David Austin-kultivar is.
"Yvonne het ons meer vertel van 'n baie interessante plantjie, die snail vine creeper, wat sy kweek," het een van die lede gesê. "Die plant se wit en ligpers blom neem die vorm van 'n kurktrekker aan. Sy het ook 'n paar van die plant se sade uitgedeel."
Bokkelkamp maak en restoureer loodglasvensters, -deurpanele en -lampskerms. Sy het 33 jaar ondervinding in die bedryf en bied ook klasse aan.
Die tweede stilhouplek was by Marni en Jaco van Dyk se verrassende tuin.
Die egpaar het 12 jaar gelede na Riversdal verhuis en besluit om die eens vaal stukkie grond in 'n groen oase te omskep.
Volgens Marni is haar tuingeheim deklaag, want 'n goeie deklaag hou die grond koel en gee die plant se voedingswortels kans om mikro- en makro-elemente op te neem. Strooi is 'n goeie deklaag, maar 'n mens kan ook jou eie maak van tuin- en ander afvalmateriaal soos droë gras, blare en of houtsnysels.
Bool Smuts van Zeekoegat en historiese opstal was die volgende kuierplek. Smuts is onder andere 'n omgewingspesialis en het 'n nie-winsgewende organisasie met die naam Landmark Foundation gestig.
Hy is passievol oor navorsing en die beskerming van die luiperds en ander roofdiere.
Die stigting is by talle projekte betrokke wat die gemeenskap en boere help om hul vee teen roofdiere te beskerm. Sy stigting het reeds 42 luiperds gered, waarvan 22 met GPS-nekbande toegerus is.
Op sy plaas Zeekoegat is drie huise waarvan die oudste uit 1740 dateer, wat dit die oudste gebou in die kontrei maak. By Robyn Learmonth van die Cat's Paw Pottery Studio in Langstraat het hulle meer te wete gekom oor haar pottebakkery wat sedert 2011 deel van dié dorp is. Sy spog met haar verfwerk wat met die hand gedoen word en haar kleurvolle items sluit kat-, tarentaal- en blomontwerpe in. "Haar kundigheid en die gehalte van haar werk is verstommend en laat jou besef dat jou eie eetgerei sommer baie vaal lyk."
Die laaste besoekpunt was Acy Shaw se pragtige potte-tuin in Homeriastraat waar om elke hoek en draai 'n interessante plantjie wag.
"Ons dag was oudergewoonte vol inspirasie en vars idees vir almal."
Die groep tuinliefhebbers is vol inspirasie na afloop van hul uitstappie.
• Lees 'n vorige artikel hier: Tuinbouklub kry inspirasie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'