HEIDELBERG NUUS - Nagenoeg 100 jeugdiges, wat aan drie opleidingskursusse deelneem, is hewig ontsteld omdat hulle nog nie hul eerste opleidingstoelae ontvang het nie.
Die opleiding, wat op Maandag 8 Junie onder die vaandel van die departement van arbeid met Elgin Gemeenskapskollege as diensverskaffer begin het, word by die JF Neumann Congregational Church se kerksaal aangebied.
Die opleiding behels drie kursusse, naamlik nuwe ondernemingskepping en entrepreneurskap, vroeë kinderontwikkeling, wat ses maande duur, asook omgewingspraktyke, wat oor een jaar strek.
Om alles te kroon, is die drie fasiliteerders wat die kursusse aanbied, asook die kerk, nog nie betaal nie.
Die jeugdiges het dit duidelik gestel dat daar dikwels gesê word hulle is onwillig om hulself te bemagtig of om te werk, maar die fasiliteerders in hierdie geval, word nie eens betaal sodat hulle na Heidelberg kan reis om die opleiding aan te bied nie.
Suid-Kaap Forum het met ’n verteenwoordiger van die George-kantoor van die departement van arbeid, asook met die projekbestuurder van Elgin Gemeenskapskollege, gepraat.
Nie een kon bevestig wat die oorsaak van die vertraging is nie, maar het gesê daar word aan die probleem gewerk en dat hulle hoop om dit binnekort op te los.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’