RIVERSDAL NUUS - Kinders se waarde, selfrespek en die belangrikheid daarvan om tussen reg en verkeerd te onderskei was die kern tydens ’n gesondheidsekspo wat die Sewendedagadventistekerk onlangs by Voorwaarts Primêre Skool aangebied het.
Die inisiatief, wat deur die Sewendedagadventistekerk gelei was, was daarop gemik om die jeug te bereik en kinders daaraan te herinner dat hul omstandighede by die huis nie hoef te bepaal wie hulle word of watter keuses hulle in die lewe maak nie.
Die waarde van elke kind is beklemtoon, en die boodskap was dat kinders moet besef dat hulle belangrik is en ’n toekoms het.
Dissipline was ook ’n belangrike fokus van die dag, in aansluiting by Dennis Karelse van die departement van onderwys se visie, ‘Dissipline begin by die huis’, wat hy by Riversdal-skole verkondig.
Boeliegedrag by skole is eweneens aangespreek, met klem op die negatiewe invloed wat dit op kinders se welstand en ontwikkeling kan hê.
Die polisie het ook ’n beroep op ouers gedoen om toe te sien dat hul kinders gereeld skool bywoon.
Ouers is gewaarsku dat indien hulle staatstoelaes vir hul kinders ontvang, die kinders wel skool moet bywoon.
Die dag is in samewerking met die departement van onderwys, ambulansdienste en Riversdal-polisie aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’