Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Dit gons op sosiale media oor bewerings van motoriste wat teen hoë snelhede in Stilbaai se woongebiede jaag.
Een van die inwoners, Annetjie Slabbert het haar tot Suid-Kaap Forum gewend en ook Hessequa-munisipaliteit se departement gemeenskapsveiligheid genader in 'n poging om mense bewus van spoedbeperkings binne die dorpsgebied te maak en die gevare van jaag .
Slabbert vertel verskeie bokkies is al binne die dorp doodgery. "Twee grysbokkies is op Woensdag, 18 November in Stilbaai raakgery. Van die inwoners het 'n punt bereik waar hulle reg in eie hande wil neem."
Sy het beeldmateriaal waar inwoners van Indrafstraat op 18 November probeer om 'n grysbokkie te red na dit in die straat raakgery is, beskikbaar gestel. Die bok se beserings was egter te ernstig en is dieselfde dag van kant gemaak.
Kyk die video hieronder:
Dieselfde dag het Slabbert en ander inwoners die munisipaliteit se departement gemeenskapsdienste genader met versoeke en voorstelle om spoedbeheer binne Stilbaai toe te pas.
Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte het op navraag oor die bewerings van 'renjaers' in Stilbaai, gesê die departement gemeenskapsdienste het onderneem dat verkeersdienste die situasie sal monitor en optrede loods waar die verkeerswetgewing oortree word.
"Die verkeersdepartement doen deurlopend voorstaandiens om oortreders in al die dorpe en woongebiede vas te vat en 'n dringende beroep word op alle inwoners en besoekers gedoen om verkeersregulasies na te kom. Elke padgebruiker het die plig en verantwoordelikheid om spoed- en ander verkeerswetgewing te gehoorsaam."
Slabbert se klagtes aan die munisipaliteit sluit in dat sekere strate in Stilbaai as renbane gebruik word.
Sy sê stoptekens word ignoreer en pleit by die munisipaliteit om spoedwalle aan te bring. "Stilbaai is 'n dorp met oud en jong inwoners. Bejaardes stap graag met hul honde in die strate.
Ongelukkig is daar nie veel sypaadjies wat dit veilig maak nie.
"Dan het die dorp baie jonger gesinne die afgelope paar jaar sien inkom. Klein kinders as gevolg van die jaagduiwels het nie nie die vryheid om fiets te ry of selfs winkels toe te stap nie," het Slabbert afgesluit.
Inwoners het die erg beseerde grysbokkie wat raakgery is, probeer help. Foto uit video wat verskaf is.
Die grysbokkie was te erg beseer en moes van kant gemaak word. Foto uit video wat verskaf is.
Vorige artikel: Stilbaai-spoedvrate onder loep
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'