HEIDELBERG NUUS - Inwoners van Diepkloof het Dinsdagoggend 19 Mei werkers verhoed om voort te gaan met die plaveisel van Goliath Davids-straat, wat as gevolg van die Covid-19 inperkingsmaatreëls gestaak is.
Volgens die ontstoke inwoners is die kontrakteur van Slangrivier, en word die plaaslike inwoners nie in ag geneem nie.
Dean Prins, een van die ontevredenes noem dat hulle in beginsel nie 'n probleem met die kontrakteur het nie, maar dat hy ten minste die helfte van die plaaslike werkloses in diens kon neem.
Gerald Boezak, wyksraadslid, was ook tydens die protesaksie op die perseel en het hy die ontevredenes toegespreek. Hy was ook met die hoofkontrakteur se bestuur op die perseel in gesprek en is die span van Slangrivier na gesprekvoering na Hoogstraat oorgeplaas.
Volgens Sydney Williams, 'n plaaslike kontrakteur, was die werk aan hom toegeken, maar omdat die hoofkontrakteur se vereistes so hoog is kon hy nie daarmee voortgaan nie.
Na samesprekings tussen Boezak, Prins en die kontrakteur is besluit om die projek te staak tot uitsluitsel oor die vereistes tussen die betrokke partye bereik is.
Inwoners is ontstoke dat plaaslike werkers nie in ag geneem word nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'