HEIDELBERG NUUS - Nagenoeg 40 inwoners - familie, vriende en bure van die vermoorde Pieter John Oktober (39) - het Dinsdag-oggend na die plaaslike landdroshof opgeruk om teen die moontlike borgtog van die beskuldigde, Leandré Hendricks (22), te protesteer.
Die groep is vanaf die Duivenhoks-gemeenskapsaal deur die plaaslike polisie, munisipale wetstoepassers en die Openbare-orde-polisiëringseenheid na die hof begelei, waar hulle 'n memorandum met hul griewe, asook 'n petisielys met sowat 350 handtekeninge, aan Donavan Weber, kantoorbestuurder van die landdroshof, oorhandig het.
Plakkate met slagspreuke
Tydens die optog na die hof het betogers plakkate gedra met slagspreuke soos: 'Genoeg is genoeg', 'Justice for Pieter/George', 'No bail for killers' en 'Geregtigheid vir Pieter'.
Hiermee het hulle hul teenkanting teen borgtog vir Hendricks uitgespreek.
Die dorp was diep geruk toe Hendricks in die vroeë oggendure van Saterdag 16 Mei na bewering vir die tweede keer binne die bestek van 17 maande die lewe van 'n persoon geneem het.
Na bewering aangerand
Oktober is na bewering met 'n skerp voorwerp in sy motor aangerand en noodlottig gesteek terwyl hy saam met twee vriendinne kort ná 06:00 op die ou tennisbaan in Joe Slovo Park in sy voertuig gesit en gesels het.
Volgens inligting het Oktober uit sy motor gevlug en huis toe gehardloop, maar sowat 40 m van sy ouerhuis in Joe Slovo Park inmekaargesak.
Ambulanspersoneel het hom op die toneel dood verklaar.
Hendricks word ook daarvan beskuldig dat hy die middeljarige inwoner George Hill (51) van Joe Slovo Park op Oukersaand 2024 met 'n mes aangeval het.
Hill het vroeg op Kersoggend aan sy wonde beswyk.
Vlugtig in hof
Hendricks het vlugtig in die hof op aanklag van moord op Oktober verskyn. Oktober se ma, Katie, sy twee susters, sy broer en sy dogter was onder die hofgangers.
Hy is nie gevra om te pleit nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot Dinsdag 25 Augustus in die plaaslike landdroshof uitgestel.
Hendricks bly in aanhouding.
Die memorandum, wat deur Marilyn Oktober, suster van die oorledene oorhandig is, stel onder meer dat:
- Die moord 'n skedule 6-misdryf ingevolge Artikel 60(11)(a) is en dat die hof daarom moet aanvaar dat dit in die belang van geregtigheid is om borgtog te weier.
- Indien Hendricks op borgtog vrygelaat word, dit ingevolge Artikel 60(4)(b) 'n bewese gevaar vir die gemeenskap inhou, aangesien hy na bewering binne 17 maande twee persone doodgesteek het.
Hill se weduwee beweer ook dat - Hendricks haar en haar seun op die oggend van Oktober se moord gedreig het deur te sê hulle is sy volgende teikens.
- Dat borgtog die openbare belang en vertroue in die regstelsel ingevolge Artikel 60(4)(e) kan benadeel.
Intussen moet Hendricks op Woensdag 5 Augustus in die streekhof in Riversdal op die aanklag van moord op George Hill verskyn.
Volgens inligting is daar laat verlede jaar ook 'n klag van poging tot moord teen Hendricks aanhangig gemaak nadat hy na bewering 'n 43-jarige man in sy huis in Adamssingel, Joe Slovo Park, ernstig aangerand en skade aan die woning aangerig het.
Hy is op dié aanklag skuldig bevind en tot 'n boete van R3 000 of ses maande gevangenisstraf gevonnis.
Die boete is betaal, waarna hy vrygelaat is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’