Update
SWELLENDAM NUUS - Die humeure het behoorlik in Swellendam vlamgevat nadat inwoners al vir nagenoeg twee weke probleme met watertoevoer in Railton ondervind.
Verskeie aksies is die afgelope week geloods om hul ontevredenheid oor die toedrag van sake te beklemtoon.
Ongeveer 60 inwoners het Sondag, 31 Januarie na die munisipale kantore gegaan om water te gaan haal.
Hulle is blykbaar die vorige Dinsdag deur die munisipale bestuurder, Anton Groenewald tydens 'n protesoptog meegedeel dat hulle water daar kon kry as die watertrokke nie genoegsame water vir hulle kon voorsien nie.
Gayl Manho, 'n plaaslike gemeenskapsaktivis noem dat toe hulle Sondagmiddag by die munisipale krane in die dorp kom, dit baie stadig geloop het. Dit het tot gevolg gehad dat die ontevredenes luidkeels om water geskree en hulle frustrasies op plakkate ten toon gestel het.
Volgens van die inwoners is die water wat met die trokke voorsien word, net geskik vir hul wasgoed en huishoudelike take. Manho het gesê dat dit beslis nie vir menslike gebruik geskik is nie.
"Dis daarom dat ons mense verkies om water in die dorp te gaan haal. Ons is al raadop vir die leë beloftes wat die munispale bestuurder vir ons opdis."
Manho vertel verder dat die inwoners van Smartie Town, Asla Park, Rondomskrik en Sewendelaan, sowel as strate in Railton, waaronder Akasia-, Protea- en Ringstrate, onder die kwaliteit van die water gebuk gaan wat deur die munisipaliteit vir hulle aangery word.
Sy noem verder dat die toestand van die watertoevoerpype lankal 'n probleem is en dat die munisipaliteit hulle nie aan die mense van Railton se se pleidooie steur nie. "Moet ons nou soebat en baklei vir iets wat ons basiese reg is?" wou sy weet.
Groenewald is reeds Donderdag, 28 Januarie per e-pos vir kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie op die navrae reageer nie.
Rachel Windvogel, Wes-Kaap LPP en ANC skaduminister van gesondheid, spreek haar misnoeë teenoor Anton Groenewald, Swellendam munisipale bestuurder uit terwyl kapt Dewald Crouse van die plaaslike polisie byderhand is. Foto’s verskaf
Vorige artikel: Waterprobleem val op dowe ore
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'