STILBAAI NUUS - Woensdag 17 September is Nasionale Rivierskoonmaakdag en in Stilbaai het 25 vrywilligers, gewapen met vullissakke, die oewer van die Goukourivier getakel.
In net twee ure is 37 sakke rommel opgetel en daar was selfs 'n platskermtelevisiestel en dele van 'n stofsuier tussen die rommel.
Dit is mense soos hierdie wat met 'n glimlag twee ure opoffer om te verseker dat daardie 37 sakke rommel nie in die see beland nie en wat die mond van die Goukourivier een van die skoonste in die land maak.
Saterdag is Internasionale Strandskoonmaakdag en dan gaan vrywilligers weer twee ure van hulle tyd opoffer om die strand by Geelkrans buite Stilbaai skoon te maak.
Vrywilligers kom 10:45 by die Preekstoel-parkeerterrein bymekaar.
Vir navrae WhatsApp 082 457 1135.