RIVERSDAL NUUS - Die Inheems-tienerkunsprojek het elke sintuig verlei.
Dit is aangebied deur die Gouritz-groepbiosfeer-reservaat (GCBR), Hessequa-kunsroete en Hessequa-biblioteke.
Linda Fletcher, die volhoubaarheidsbestuurder van GCBR, die kunstenaar Marilise Lombard, die Riversdal-biblioteek se bestuurder, Ursula Oosthuizen, en 'n span vrywilligers werk al drie maande lank aan hierdie projek - met die doel om kunstalent te ontgin en 'n bewuswording van natuurbewaring te bevorder.
Die prag en geur van fynbos, geskenk deur Wedré Geldenhuis van Mont Blanc Flora, Melisa van de Berg-boerdery en Janet Muller van Geel Mossie, het die uitstalruimte aangevul en die inheems-tema beklemtoon.
Die geur van pannekoek en gourmet-gebak met sjokolade-splinters, kaneel, klapper, vanielje, karamel, lemoen, suurlemoen, piesang en aarbeie – én haselneute, makadamia en amandel – uit Bianca Love van BitterSoet-fyngebak se kombuis – het neuse verlei en monde laat kwyl.
En, as jy fyn geluister het, sou jy ook kon hoor hoe glimlaggende sonbesies in die fynbos sing...
Altesaam 150 inskrywings deur hoërskoolleerders van 13 tot 19 jaar is in die vier afdelings – grafiese kuns, fotografie, skilder en teken - op 25 Oktober by die burgersentrum op Riversdal uitgestal. Daar was R9 000 se prysgeld op die spel.
Panoramiese beeld van Inheems-tentoonstelling.
Van die 150 pragwerke.
Sowat 200 kunsliefhebbers, leerders en hul ouers het die prestige-toekenningsgeleentheid bygewoon. Foto’s: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’