STILBAAI NUUS - Stilbaai het onlangs gasheer gespeel vir die 50-jarige reünie van die 1974 meganiese ingenieursstudente van die Universiteit van Pretoria.
Van die oorspronklike 34 klaslede is daar tans nog 'n adreslys met 26 name en drie baie ondersteunende oud-lektore en hierdie groepie het die besondere onderskeiding behaal om vir meer as 50 jaar noue bande te behou.
In hierdie tydperk het hulle al verskeie byeenkomste gereël wat telkens bo verwagting goed bygewoon is en hulle het op whatsapp, facebook en ander sosiale media amper op 'n daaglikse basis kontak.
Jeannette, vrou van Marius Engelbrecht, vertel dat hulle selfs 'n mascot het. Dit bestaan uit 'n karaktertjie wat tydens hulle finalejaar agter in die klas opgeplak was en baie goeie herinneringe tuisbring.
Vir die reünie het hulle 'n feesembleem ontwerp en dit op spesiale plekmatjies, wat tydens hulle Sondag noenmaal gebruik is, gesit.
Sy vertel verder dat hulle by verskeie eetplekke en ander besienswaardighede getekende weergawes agtergelaat het en dit kan lei tot 'n interessante skattejag kompetisie.
Jeannette sê dat hulle Stilbaai nie net vir sy prag gekies het vir die reünie nie, maar ook omdat 'n hele paar oud-kollegas in en om Stilbaai woonagtig is en hulle huise oopgegooi het vir hulle maats.
Vriende het gekom van sover as Pretoria, Yzerfontein, Bloemfontein, Zambië en George vir hierdie vierdaagse reünie en die week se program het baie eenvoudig bestaan uit lekker saam eet, saam kuier, saam dinge doen soos rolbal speel in Stilbaai en Powervan uitstappies in George.
Die week is afgesluit met 'n saamkuier in die Waenhuis by Jagersbosch waar staaltjies en beroepsondervindinge gedeel is en hulle heerlik gesmul het aan Sanet Jacobs en haar personeel se kos.
Oud-lektore Hans Pretorius, At von Wiellich en Jan van Staden kon nie bywoon nie, maar het hulle beste wense en seëngroete gestuur.
Hulle sê verder dat hulle baie beïndruk is met die groep se prestasies die afgelope 50 jaar en dat dit merkwaardig is dat daar na soveel jaar steeds soveel samehorigheid en entoesiasme is.
Hulle sê ook dat die groep werklik die naam van professionele meganiese ingenieurs hoog hou en hulle is dankbaar dat hulle 'n klein bydrae kon lewer in hulle sukses.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’