STILBAAI NUUS - Die nuwe ingangsbord voor dié gewilde kusdorp is Woensdag 10 Augustus ingewy.
Stilbaai-toerisme het besef dat die erg verbleikte bord herstel moet word en het twee voorstelle op hul Facebook-blad aan die gemeenskap gerig, waar hulle kon stem: 'n Kleurvolle of 'n baie simplistiese bord.
Binne enkele dae het 36 000 mense die insette gelees en 974 het kommentaar gelewer. Die oorgrote meerderheid van mense wat reageer het, het vir 'n simplistiese bord gestem.
Die bord is voor die Desembervakansie verlede jaar oorgedoen, maar 'n vennootskap tussen die toerismekantoor, Stilbaai-sakekamer en Hessequa-munisipaliteit het gesorg dat die gedeelte rondom die bord ook verfraai word.
Twee reusepotte het staanplek weerskante van die bord gekry, gruisklippe is gegooi en gras is aangeplant. Onder leiding van die nuut aangestelde munisipale amptenaar van parke en openbare geriewe, Charlotte Michiel, word die deel agter die bord ook verfraai.
Mariana Dippenaar van die tuinbouklub, asook Hein Faber, 'n landskapsargitek is betrek en die uiteindelike doel is om die hele strook vanaf die ingangsbord tot by die inligtingskiosk in 'n pragtige tuin te omskep, wat deur die munisipaliteit onderhou sal word.
"Stilbaai is so uniek omdat die inwoners 'n passie het vir hul dorp," het Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer tydens die geleentheid gesê. "Hierdie projek is weereens 'n sprekende voorbeeld hiervan en wil ek die gemeenskap bedank. Dit is 'n eer en voorreg om so 'n gemeenskap te dien."
Annerise Wolmarans het ook namens die toerismekantoor almal vir hul bydraes bedank. Michiel het gesê dat sy daarna uitsien om saam met die gemeenskap te werk.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'