TUINROETE NUUS - Gesondheidsspanne het 'n mooi uitsig geniet tydens Vrydag, 21 Januarie se inentingsuitreik na Garden Route Game Lodge.
Die wildreservaat se personeel, sowel as persone van omliggende gebiede het die geleentheid gehad om hulle eerste inentings, sowel as versterkingsinentings (boosters) te ontvang.
Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr Nomafrench Mbombo het die uitreik besoek as deel van haar oorsigbesoek aan die Tuinroete.
Volgens dr Gideon van Tonder van Riversdal-hospitaal werk spanne hard om soveel as moontlik mense die geleentheid te bied om ingeënt te word. "Die spanne doen gereeld uitreike en ons klinieke doen ook inentings volgens 'n weeklikse skedule.
"In Hessequa is 65% van almal bo die ouderdom van 50 jaar ingeënt en 49% van almal bo die ouderdom van 18 jaar. Daar is dus ruimte vir verbetering en ons moedig almal aan om van die geleenthede gebruik te maak wat geskep word om hulle inentings te ontvang."
Maak inenting een van jou nuwejaarsvoorneme – kry jou inenting nou om jouself te beskerm teen ernstige siekte.
Onthou ook om jou masker te dra wanneer jy buite is, vermy groot groepe mense, doen aktiwiteite buite en maak seker dat daar goeie ventilasie is wanneer jy binnenshuis is.
Onthou om jou J&J 'booster' twee maande na jou eerste J&J inenting te kry en jou Pfizer 'booster' 6 maande na jou tweede Pfizer inenting.
Persone in die Hessequa sub-distrik word aangemoedig om hulle inentings te kry by enige van die volgende inentingspersele:
- Melkhoutfontein satelliet- kliniek (Maandag en Vrydag);
- Slangrivier satelliet-kliniek (Vrydag);
- Albertinia-kliniek (Donderdag en Vrydag);
- Heidelberg kliniek (Woensdag en Vrydag);
- Stilbaai satelliet-kliniek (Woensdag en Donderdag),
- Riversdal-kliniek (Maandag, Dinsdag, Donderdag en Vrydag).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'