STILBAAI NUUS - Huis Stilbaai se dames maak hulle harte oop vir die kinders by Ouma Lena se Huis in Melkhoutfontein.
Vrydag 14 April was 'n heuglike dag toe Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai, en 'n paar inwoners met swart sakke vol kinderklere by Ouma Lena se Huis opgedaag het.
Met die winter net om die draai sal die rokkies, truitjies en mussies baie help om die koue te verdryf en sommer 'n klomp kinderharte verbly.
Tans is daar 33 kinders in die kleuterskool by Ouma Lena se Huis en in die nasorgafdeling is daar daagliks tussen 55 tot 60 kinders.
Van die kinders in die koor.
Ouma Lena se Huis verskaf ook daagliks maaltye aan 65 kinders van Melkhoutfontein.
Hierdie is 'n projek wat hoofsaaklik van skenkings en donasies afhanklik is en word bedryf in samewerking met Badisa Stilbaai, wat die fondse en donasies hanteer.
Vrywilligers uit Stilbaai en Melkhout-fontein is die lewensaar wat Ouma Lena se Huis aan die gang hou en hier word ure spandeer om hierdie vangnet vir die kinders van die gemeenskap, wat sosiale probleme soos werkloosheid en dwelmmisbruik daagliks moet trotseer, volhoubaar te maak.
Weldoeners met harte van goud en omgee vir minderbevoorregte kinders. Van links: Maryke van Schalkwyk, Barnes Jackson, Marleen Myburgh, Wanda Jacobs, Suzelle Mouchtouris (Kleuterskool), Marie Steyn, Karlien Saayman (Bestuur Huis Stilbaai) en Cornelia Giliomee (Badisa).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’