SUID-KAAP NUUS - Die voorkoming van servikale kanker begin lank voor volwas-senheid, en een van die doeltreffendste beskermingsmaatreëls is die HPV-inenting.
Van 2 Februarie tot 27 Maart sal skoolge-sondheidsverpleegkundiges van die Wes- Kaapse departement van gesondheid en welstand openbare skole besoek om 'n gratis enkeldosis HPV-entstof aan gr. 5-meisies van nege jaar en ouer toe te dien.
Volgens gesondheidskenners bly servikale kanker een van die algemeenste kankers onder vroue in Suid-Afrika, maar dit is ook een van die mees voorkombare.
Die meeste gevalle word veroorsaak deur die menslike papilloomvirus (HPV).
Deur meisies reeds in hul vroeë tienerjare in te ent, kan hierdie infeksies voorkom word lank voordat dit skade veroorsaak.
Die entstof word wêreldwyd op hierdie ouderdom aanbeveel aangesien kinders se immuunstelsels sterker reageer, wat die entstof meer doeltreffend maak.
Althea Adams, kliniese program-koördineerder vir die Tuinroete-distrik, het 'n eenvoudige boodskap aan ouers: "Beskerm hul toekoms, bemagtig hul keuses. Ent teen HPV vandag."
Ouers en versorgers speel 'n sleutelrol in die sukses van die veldtog.
Skoolgesondheids-verpleegkundiges mag slegs leerlinge inent indien 'n voltooide en ondertekende toestemmingsvorm ingedien is.
Ouers word aangemoedig om die vorm deeglik deur te lees, vrae te vra en dit betyds aan die skool terug te besorg.
Hoe meer meisies bereik word, hoe sterker word gemeenskappe se langtermynwelstand en hoe nader beweeg Suid-Afrika aan 'n toekoms met minder servikale kanker.
Cristal Solomons, wat toesig hou oor die uitrol van die veldtog in die Wes-Kaap, sê: "Die HPV-entstof is een van ons kragtigste hulpmiddels om servikale kanker te voorkom.
"Om dit op hierdie ouderdom toe te dien, bied langdurige beskerming wat lewens kan red."
Sy voeg by dat alle skoolverpleegkundiges behoorlik opgelei is en dat geen inenting sonder ouers se toestemming sal plaasvind nie.
Vir meer inligting kan ouers hul plaaslike kliniek of skoolgesondheidsverpleegkundige kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’