RIVERSDAL NUUS - Die voorval 'n paar weke gelede in die Ou Meule-omgewing toe 'n vierjarige Jack Russell-reun, Max, met 'n windbuks geskiet is, veroorsaak dat al meer inwoners bekommerd oor hul én hul diere se veiligheid raak.
Omtrent elke huishouding in dié buurt het troeteldiere. In hierdie omgewing bedryf 'n oudioloog en oogkundige hul praktyke en albei is bekommerd oor hul pasiënte se veiligheid. Susan Wentzel, 'n dagmoeder, kyk bedags na drie kleinkinders en 'n paar ander kleuters.
Wentzel moes haar liefling-poedeltjie, Milo, onlangs weens ouderdom en siekte laat uitsit. Sy kry die einde van die maand weer 'n hondjie. Haar geselskap is intussen 'n bekkige ringnekvoël, Loekie, wat klankryk gesels. Wentzel is deesdae egter te versigtig om hom in sy hok buite in die son te sit omdat haar erf blykbaar 'n teiken van die vermeende skut is. Hier baljaar die kinders in die somer in die opblaasswembad en op die springmat.
"Ek het al talle windbukskoeëltjies hier opgetel. Ek het dit ongelukkig weggegooi, want ek was bang die kinders tel dit op en druk dit in hul mond, neus of ore. Hulle is my verantwoordelikheid en as iets met hulle moet gebeur, is ek daarvoor aanspreeklik. Ek probeer alles in my vermoë doen om hulle te beveilig. Ná Max se besering is ek regtig skrikkerig. Die bure in die straat kom almal goed oor die weg en ken mekaar se diere. Ons kan nie begryp hoe dit moontlik is dat iemand na willekeur kan skiet en daarmee kan wegkom nie. Ons buurt het beskerming teen sulke onverskillige mense nodig."
Die inwoners meen dinge sal rustiger wees en veiliger voel as windbuks-eienaars vuurwapenlisensies moet bekom.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'