Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - "'n Windbukskoeëlwond kan ook vir mense noodlottig wees," waarsku die mediese praktisyn, Werner Kapp.
Die een se onskuldige speelding kan in iemand anders se hande 'n dodelike wapen word. Die kommer oor 'n vermeende inwoner wat diere met 'n windbuks tussen Lang- en Kerkstraat teiken, kring verder uit. Twee doodloopstrate, Van Riebeeck en D'Urban, vertak uit Langenhovenstraat in die Ou Meule-omgewing.
Dié strate grens onder meer aan twee kleinhoewes met perde, kleinvee, pluimvee en 'n ryskool.
Die roete word dikwels deur perde en ruiters gebruik. Omtrent elke huis in dié buurt het troeteldiere. Die inwoners is veral bekommerd oor die veiligheid van diere, kinders en bejaardes.
Kapp wys uit dat die trefkrag van hedendaagse windbukse baie kragtiger as destyds is. 'n Windbukskoeël kán reuseskade berokken en selfs noodlottig wees, afhangende van waar dit die liggaam tref.
"Die meeste gevalle is gelukkig darem net vleiswondskote op boude, wat dikwels uit ondeundheid of roekeloosheid spruit. Die gevaarlikste anatomiese areas is die skedel (afhangende van jou ouderdom), nek, borskas (hart en longe) en lies. Dit gaan nie noodwendig oor die perforasie van die wond nie. Jy kan egter doodbloei."
Daar is verskeie gevalle opgeteken van bobbejane en varke wat met 'n windbuks vrekgeskiet is. Helaas, kinders en bejaardes het ook al beswyk aan beserings wat deur 'n windbukskoeël veroorsaak is.
Kyk 'n video hieronder:
Verantwoordelikheid
Mediese kundiges is dit almal eens dat ouers hul kinders van kleins af moet maan om geen vreemde voorwerpe te hanteer en in hul mond, neus, oë en ore te druk nie. Selfs iets só klein soos 'n koeëltjie kan gevaarlike gevolge hê. 'n Windbukskoeël wat die oog of oor tref, kan tot blindheid en gehoorverlies lei.
Windbukse is in verskeie kalibers beskikbaar. Volgens wetgewing wat op 1 Januarie 2019 uitgevaardig is, kan mense 'n windbuks wat met koeëltjies van 2,97mm of kleiner gelaai word, sónder 'n vuurwapenlisensie by handelaars koop. Dit is dus amper 'n onbegonne taak om vas te stel wie windbukse besit. Groter nóg is die uitdaging om te bepaal wie 'n windbuks misbruik.
'n Vuurwapenkundige wys uit die doel van 'n windbuks is nie vir selfverdediging of om iemand skade te berokken nie. Dit is ontwerp vir sport, ontspanning en skyfskiet na lewelose voorwerpe in 'n veilige omgewing.
Volgens Ruduan en Erené Hendricks, die eienaars van Max, die vierjarige Jack Russell-reun wat steeds met die koeël in sy hart oorleef waarmee hy getref is, is die saak van dieremishandeling nou gesluit.
"Die ondersoekbeampte het my toevallig in die straat raakgeloop en verklaar die verdagte is ondervra, maar hy beweer hy is 'n diereliefhebber en voer aan hy is onskuldig. Ek is steeds nie tevrede nie. My kinders is erg getraumatiseer en 'n onskuldige troeteldier moes ly. Ons het nog nooit só onveilig in dié buurt gevoel nie."
Verwante arikel: Mense ook onveilig
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'