Update
RIVERSDAL NUUS - Die gebruiklike N2-verwelkomingsprojek is Vrydag 15 Desember net buite die dorp aangebied.
Die projek is deur Hessequa-munisipaliteit se beskermingsdienste departement en toerisme afdeling, in samewerking met Interkaap, provinsiale verkeer, brandweerdienste, Working on Fire (WoF), ambulansdienste (EMS) en rampbestuur aangebied.
Die boodskap wat beskermingsdienste tydens die verwelkomingsprojek wil oordra, is dat lewens belangriker is as nalatigheid of onnodige roekeloosheid.
Motoriste het 'n verwelkomingspakkie vanaf die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en speaker, Andrew Stroebel ontvang.
Dit het vrugtesap, inligtingsbrosjures oor padveiligheid, brande, noodnommers, inligting rakende die Hessequa-streek, 'n verwelkomings-boodskap, vermaak vir die kinders en plaaslike vervaardigde produkte bevat.
Riddles noem dat dit belangrik is om motoriste op padveiligheid uit te wys en op 'n vriendelike en ontvanklike manier 'n padblokkade te behartig waar rybewyse, lisensieskyfies en padwaardigheid van motors nagegaan word.
Die hoof van beskermingsdienste, Adneshel Voss, noem dat oortredings tydens die feesseisoen baie ernstig opgeneem word en roekelose en nalatige bestuurders nie geduld sal word nie.
Al die betrokkenes by die verwelkomingsprojek.
Die grootste gevaar tans is bestuurders se gebruik van selfone.
"Die tik van 'n boodskap of WhatsApp terwyl jy bestuur, kan tot lewensverlies lei. Plaas jou en ander motoriste se veiligheid eerste en verseker te alle tye dat veiligheidsgordels vas is, veral passasiers op die agterste sitplekke."
Voss vra ook dat mense verdraagsaam moet wees en hul vakansie geniet.
In enige lewensbedreigende situasie binne die Hessequa-streek, soos 'n huisbrand of motorongeluk, skakel die noodnommer 028 713 22 22.
Dit word 24 uur beman en die nodige nooddienste sal ontbied word.
"Ons wens vakansiegangers en die plaaslike gemeenskap 'n veilige vakansie en reis toe. God se rykste seën oor almal."
Lees 'n vorige artikel: Hessequa verwelkom vakansiegangers
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'