STILBAAI NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering op 17 April die grondhervormingsproses op gedeelte 2 van die plaas Schoongeleë No. 282 en Soebattersvlakte No. 611 indringend bespreek.
Die raad het kennis geneem dat 'n vorige besluit, geneem op 26 Maart, reeds geïmplimenteer is, waartydens 'n versoek aan die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling (DGLO) gerig is vir 'n openbare vergadering om met betrekking tot die grondhervormingsproses op bogenoemde eiendomme in gesprek te tree.
Ten spyte van hierdie versoek, is daar tot op hede geen bevestiging of terugvoer van die departement ontvang nie.
In die lig van die gebrek aan betrokkenheid vanaf die DGLO, het die Hessequa-munisipaliteit op 14 April 'n vergadering belê met verskeie plaaslike rolspelers, organisasies en belanghebbendes binne die Hessequa-gebied.
Tydens hierdie vergadering is die volgende uitgespreek:
- Sterk ontevredenheid en kommer oor die proses wat gevolg is met die implementering van hierdie spesifieke grondhervormingsprojek; en
- Ernstige kommer oor die oënskynlike afwesigheid van die aanbevelings vervat in die Wes-Kaapse departement van landbou se assesseringsverslag (Oktober 2024) van hierdie plase in die huidige grondhervormingsproses.
Die raad het beswaar aangeteken teen die hervestiging van opkomende boere uit 'n naburige munisipaliteit. Ná beraadslaging is besluit om 'n formele dispuut ingevolge artikel 41 van die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge te verklaar , sodat die aangeleentheid deur toepaslike interregeringsmeganismes hanteer kan word.
Verder het die munisipale raad goedgekeur dat 'n onafhanklike eksterne regsopinie ingewin word om die moontlike risiko's te evalueer wat die implementering van die huidige grondhervormingsproses vir die breër Hessequa-gebied kan inhou.
Die Hessequa-munisipaliteit het bevestig dat hulle verbind bly tot deursigtige, wettige en konsultatiewe regeringsprosesse, en sal voortgaan om vir betekenisvolle betrokkenheid met alle regeringssfere te pleit ten einde volhoubare uitkomste in belang van plaaslike gemeenskappe te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’