JONGENSFONTEIN NUUS - Die Hessequa-kunsroete het weereens geskitter met hul kunstentoonstelling wat laat verlede jaar van 20 tot 23 Desember by Privilistea aangebied is.
Die luisterryke openingsaand was op Dinsdag 20 Desember.
Die samesteller van die 2022-uitstalling was Anita McLaughlin, Stilbaai-verteenwoordiger van die kunsroete, en haar mede-samesteller was Marike De Villiers.
Hulle het uitstekend daarin geslaag om hierdie pragtige venue, hoog bokant Jongensfontein, in 'n wonderwêreld van kuns te omskep.
Die aand is afgeskop met die Hessequa-kunstenaars wat die Stilbaai-ikoon, Maxi du Plooy, vereer het vir haar wonderlike bydrae tot die bekendstelling van kuns in Stilbaai. Heel gepas het sy ook haar negentigste verjaardag gevier.
Maxi het vir baie jare 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van kuns in Suid-Afrika en het verskeie toekennings vir haar besondere leierskap op die gebied ontvang. Sy is 'n legende in Stilbaai en haar skilderye is in verskeie persoonlike kunsversamelings te sien.
Vir Maxi is hierdie erelidmaatskap van die Hessequa-kunsroete 'n besondere voorreg en sy sê dat om met jou hande te kan skep is 'n gawe van God. "As jy iets met jou hande skep, is dit iets nuuts wat nie voorheen daar was nie en hierdie talent dra jy met jou saam tot die dag van jou dood."
Die gaste het daarna die geleentheid gehad om met 'n bordjie versnaperinge deur die uitstalling van 40 Hessequa-kunstenaars te beweeg en heelwat kunsstukke het reeds op die openingsaand van eienaar verwissel.
Marthinus van den Berg, onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, het in sy toespraak die kunstenaars bedank vir hul rol om mense na Hessequa te lok en ook vir die ekonomiese inspuiting wat dit vir die streek bring. Hy het gesê die kunste is vir hulle baie belangrik en daarom ondersteun hulle die Hessequa-kunsroete op baie maniere.
Josua Smit het met sy pragtige klassieke kitaarspel verdere luister aan die aand verleen terwyl Willie Schoombee, Adriaan Loots en Janus Redelinghuys spesiaal vir Maxi gesing het.
Louise Kluyts, voorsitter van die Hessequa-kunsroete, en haar span is reeds hard aan die werk aan die derde tentoonstelling wat vir Desember 2023 beplan word - weer by Privilistea.
Altesame 40 Hessequa-kunstenaars se skilderye was te sien.
Van die skilderye wat by Privilistea ten toon gestel is.
Die negentigjarige Maxi du Plooy se nuutste skildery.
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'