STILBAAI NUUS - Meer as sewe weke ná die ernstige motorfietsongeluk waarin sy op Sondag 3 Mei in Hoofweg-Wes beseer is, het die 21-jarige Charuné Smit besluit om haar kant van die gebeure te vertel.
Smit was 'n passasier op die motorfiets wat deur Petrus de Bruyn bestuur is toe dit van agter teen 'n stilstaande voertuig gebots het.
Sy sê verskeie gerugte en kommentaar op sosiale media, asook 'n radio-onderhoud, het 'n verkeerde beeld van die ongeluk en haar beserings geskep.
"Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie, maar ons wil dit duidelik stel dat ons nie gejaag het soos sommige mense beweer nie," vertel sy.
Volgens Smit en De Bruyn was hulle op pad na 'n winkel en het hulle teen ongeveer 50km/h gery.
Die voertuig voor hulle het na links beweeg, wat hulle laat dink het die bestuurder maak plek vir hulle om verby te gaan.
Hulle het egter nie die voertuig opgemerk wat besig was om regs te draai nie, waarna die botsing plaasgevind het.
Met die impak is Smit die vêrste geslinger en het sy die ernstige beserings opgedoen.
Sy onthou wel die groot ondersteuning wat hulle op die ongelukstoneel ontvang het.
"Baie mense het by ons gebly, ons so gemaklik moontlik gemaak en ons ondersteun terwyl ons vir die ambulans vanaf Riversdal gewag het," sê sy.
Albei is aanvanklik in Riversdal-hospitaal opgeneem.
De Bruyn het 'n gebreekte pelvis opgedoen, terwyl Smit veelvuldige beserings gehad het.
Weens inwendige bloeding en ernstige swelling kon dokters nie onmiddellik die volle omvang van haar beserings bepaal nie.
Sy is op Maandag 4 Mei na George-hospitaal oorgeplaas, maar het op 7 Mei na Riversdal-hospitaal teruggekeer waar sy tot haar ontslag op Woensdag 24 Junie behandel is.
Smit het 'n gebreekte pelvis en 'n breuk aan haar L2-rugwerwel opgedoen.
Volgens haar is slegs die been beskadig en is daar geen rugmurgbesering nie.
Die gevoel in haar linkerbobeen het nog nie ten volle teruggekeer nie, maar sy hoop dit sal met tyd herstel.
Sy dra tans 'n rugstut wat sy vir vyf weke moet gebruik en slegs afhaal wanneer sy gaan slaap.
Hoewel stap nog moeilik is, is sy dankbaar dat sy reeds weer op haar voete is.
Die goeie nuus is dat beide sy en De Bruyn nou slegs pynmedikasie gebruik en dat hul herstel goed vorder.
Nog 'n wanopvatting wat hulle wil regstel, is dat die motorfiets nie afgeskryf is nie.
Dit kan herstel word, hoewel die herstelwerk hulle na raming sowat R6 000 sal kos.
Smit en De Bruyn spreek hul opregte waardering uit teenoor die Stilbaai-gemeenskap, die mediese personeel van Riversdal-hospitaal en almal wat hulle deur gebede, boodskappe, besoeke en ander vorme van ondersteuning bygestaan het.
"Ons wil uit die diepte van ons harte dankie sê aan elkeen wat vir ons gebid, ons ondersteun en gehelp het.
Dit het vir ons ongelooflik baie beteken."
Enige toekomstige hulp of navrae kan voortaan direk met hulle gereël word. Charuné kan gekontak word by 062 702 2865.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’