HEIDELBERG NUUS - Verskeie instansies en individue van Heidelberg het Donderdag 18 Julie hul deel bygedra om aan die nalatenskap van Nelson Rolihlahla Mandela, die land se eerste demokratiese president en vryheidsvegter, hul eer te betoon.
Verskeie take, waaronder die skoonmaak van verskeie persele, asook om honger magies met lekker warm sop en toebroodjies te vul, was aan die orde van die dag.
Die plaaslike polisie, onder leiding van kapt Mervyn Zana (waarnemende stasiebevelvoerder), ao. Alroy Windvogel (media skakelbeampte) en sers. Imorgene Herndricks het Patrick Michaels, ’n gestremde inwoner van Slangrivier, se huis binne en buite geverf, die slotte aan die buitedeure, asook die vensters vervang en die perseel skoongemaak. Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, het die verf geskenk.
Vroeër die oggend het die span ook die kleuters by Kleine Pikkewyne-kleuterskool toegespreek oor Mandela se nalatenskap. Windvogel het ’n kort oorsig van Madiba se lewe en rol in die bevrysdingstryd gegee. Gameda Booysen, traumakamerberader het die kleuters met ’n voorlesing van die storie oor die drie varkies trakteer. Die aanwesiges is met sop en ’n pakkie lekkernye bederf.
Patrick Michaels (in middel met loopraam) staan by die polisielede voor sy huis voor hulle ingespring het om dit op te knap. Links van hom staan kapt Mervyn Zana en aan sy regterkant is sers. Imorgene Hendricks. Ao Alroy Windvogel sit voor op sy hurke. Foto’s: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'