HEIDELBERG NUUS - Die dorp se jaarlikse Pampoenfees begin vandag (Vrydag 5 April) in alle erns by die dorp se skougronde.
Die hekke open reeds om 16:00 en besoekers kan uitsien na 'n nagmark, kosstalletjies, die gebruiklike biertuin en natuurlik heerlike musiek met kunstenaars soos Diane Chapman, Amore, Appel en Brendon Peyper.
Dis die einste talentvolle Diane Chapman van Witsand wat die musiekfees om 17:00 aan die gang kry en die besoekers gaan vermaak met haar bekende Kanariegeel Kanolaland, 'n vrolike liedjie wat sy spesiaal en "met liefde" aan die mense van Hessequa en Witsand opdra.
Appel, bekend om liedjies soos Nonna, Kalahari en Kom en lê my neer, is van 20:15 tot 21:15 aan die beurt.
Op Saterdag 6 April open die hekke reeds om 09:00 en om 10:45 kry Diane Chapman weer die musiekvertoning aan die gang.
Brendon Peyper tree van 20:15 tot 21:15 op.
Een van die groot hoogtepunte is die kroning van vanjaar se pampoenkampioen. Die inweeg van dié bielies begin om 16:00 en kort duskant 18:00 word die wenner aangekondig.
Dis die een item op die program wat die besoekers en inwoners na hul asems laat snak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’