HEIDELBERG NUUS - Een van dié dorp se bekendste asook geliefste boorlinge, Dean Daries, het Dinsdag 28 April haar 71ste verjaarsdag gevier.
Wat Dean se verjaarsdag so spesiaal maak is dat sy met Down se sindroom leef en volgens Down Syndrome SA een van die langslewende, indien nie die langslewende persoon met downsindroom in die land.
Sy is nou al ’n hele paar jaar by haar oudste suster in Plumstead, Kaapstad woonagtig.
Dean alombekend as Deanie, is bekend as ’n baie liefdevolle vrou wat haar altyd ontferm oor andere, veral kinders in haar familie en vriendekring.
Volgens haar jonger suster, René Ngwenya, is Deanie se onbaatsugtige liefde vir mense en haar laggende persoonlikheid die groot aantrekkingskrag vir die omgee wat so baie mense van heinde en verre vir haar aanbied.
“Sy is ’n Engelkind en is mees spesiaal vir almal in haar familie,” het Ngwenya baie passievol benadruk.
Ngwenya noem ook dat Deanie saam met hul oorlede moeder, Nettie Daries, ’n lojale lid van St. Barnabas Anglikaanse Kerk asook die kerk se Moedersunie was.
Sy het ook getrou waar hul ma by ’n organisasie betrokke was, haar gewig ook ingegooi.
Op die rype ouderdom geniet sy dit om te brei, legkaarte te doen en pragtige oortrekselboeke vir haar skryfwerk te versamel - sy noem hierdie spesiale boeke liefdevol haar “Bybels”.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’