Update
HESSEQUA NUUS - Die plaaslike polisie het hul vierde lid die afgelope jaar aan die dood afgestaan met die heengaan van ao. Percival Albert (52).
Alberts, van Riversdal, het sy stryd teen longontsteking Sondagoggend, 12 September om 03:30 in die Bayview-hospitaal op Mosselbaai verloor.
Volgens sy hartseer vrou en ma van hul drie kinders, Gladonesia, was hy vir die afgelope 17 dae in die hospitaal nadat hy met longontsteking opgeneem is.
Hy was sedert Januarie 2019 op Heidelberg gestasioneer nadat hy vir twee jaar op Grabouw gewerk het tot sy oorplasing na Heidelberg. Alberts het as jong man by die polisie aangesluit, maar na 34 jaar bedank, maar tydens die SAPD se heraansoeke diens hervat.
Alberts was hoog aangeskryf in plaaslike sportkringe, veral in krieket, en het die Riversdal-krieketklub met passie as ondervoorsitter gedien.
Volgens lt.kol. Sipho Dyani, plaaslike stasiekommissaris, het hulle 'n toegewyde en passievolle lid verloor. "Hy was 'n ware heer in alle opsigte van die woord en ons sal hom geweldig mis. Hy was 'n staatmaker en het al sy werksverpligtinge perfek uitgevoer," het Dyani gesê.
Benewens sy vrou, laat Alberts ook sy seun Curwin, en dogters Kersha en Kendall, agter.
Die begrafnisdiens is Saterdag, 18 September om 10:00 vanuit die Lede van Christus Kerk in Moorreestraat, Riversdal.
Vorige artikel: SAPD Heidelberg verloor nog 'n lid
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'