HEIDELBERG NUUS – Heidelberg Rugbyklub het Saterdag ‘n naelbyt-oorwinning van 25 - 22 behaal teen Progress van George in hul laaste tuiswedstryd van die SWDRU Superliga A se eerste rondte.
Die tuisspan het die eerste helfte met 10 - 3 voorgeloop, maar moes tot die laaste oomblik hard werk om hul voorsprong te behou.
Albei spanne het drie drieë gedruk, met Progress wat 'n strafdrie tot hul krediet kon voeg. Die wedstryd was ‘n ware toets van uithouvermoë en taktiese spel, met Heidelberg wat daarin geslaag het om in die eindoomblikke hul neus net-net voor te hou.
In die voorwedstryde het Progress egter die botoon gevoer. Hul B-span het Heidelberg met 33 - 28 geklop, terwyl hul C-span met 22 - 7 geseëvier het.
Beide Heidelberg en Progress se A-spanne het gekwalifiseer vir die Top 8-fase, wat oor twee weke sal afskop.
Voor die afskop van die A-span-wedstryd het spelers en toeskouers saam ‘n oomblik van stilte gehandhaaf ter nagedagtenis aan Basil Paige, ‘n oudspeler van Heidelberg Rugbyklub, wat vroeër die oggend oorlede is.
Dit was 'n gepaste huldeblyk aan iemand wat ‘n blywende indruk op die klub nagelaat het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’