Update
HEIDELBERG NUUS - Te midde van vreemde tye waarin ons tans leef het die ouer-onderwysersvereniging (OOV) van Hattieland (Hoërskool Heidelberg) besluit om die skool 'n bietjie te verfraai om gemoedere te lig.
Die eerste deel van die projek het vroeg in die tweede kwartaal onder leiding van Melanie Gildenhuys afgeskop, wat die mooimaak van die badkamers behels het.
Nadat die badkamers 'n sagte grys in 2020 deur die WKOD geverf is, is dit mooi opgehelder deur vrolike en positiewe gesegdes in swart en geel wat tot elke leerder en personeellid spreek.
'n Hartlike dank aan Melanie en al haar helpers. Ons is supertrots op ons pragtige nuwe badkamers.
Die tweede deel van die projek het die verf van die twee gr R-mure behels, onder leiding van Louise Kluyts, 'n plaaslike kunstenaar van Star Nation.
Sy het die OOV-mammas se idees pragtig bymekaargesit met helderkleurige mandalas en was verantwoordelik vir die tekenwerk op die grys muur as agtergrond.
Die naweek van 21 tot 22 Mei was die sogenaamde D-dag vir die verfwerk.
"Dit was 'n wonderlike ervaring om te sien hoe die kunswerk by die uur nuwe dimensies inneem en hoe elkeen van ons, as ouer en kind tog 'n kunskant aan ons het, al besef ons dit nie altyd nie.
"Hiermee wil ons net vir Louise 'n hartlike Hattie-dankie sê vir haar onbaatsugtige betrokkenheid by ons as skool en in Heidelberg se gemeeskap. Ons as Hattieland-gemeenskap is breëbors oor ons twee nuwe fotomure.
"Derdens is die skool ook besig met die opknapping van ons tuin vanaf 2019 en kan u gerus kom kyk hoe ons hoek-vetplanttuintjie aan graad R se kant vorder. Baie dankie Dawn Oliver, wat vir ons die vetplante geskenk het. Saam maak ons Heidelberg mooier en beter vir almal."
Opknappings in die badkamers.
Vorige artikel: Skool word mooi getooi
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'