KAROO NUUS - Indien daar geen dreigende gevaar van nog rotsstortings is nie en as weersomstandighede dit toelaat, kan die R328 tussen Oudtshoorn en die Kangogrotte en die Swartberge teen die naweek oop wees.
Oudtshoorn Courant het verlede Vrydag, 3 Julie, berig dat die laaste vrag rotsmateriaal wat die pad by De Kombuys versper het, deur die loop van die dag verwyder is. Byna 8 000 ton materiaal is met die opruimingsoperasie die afgelope twee weke verwyder.
In 'n reaksie op 'n navraag aan die Wes-Kaapse minster van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het sy woordvoerder, Melchior Botes, hierdie week bevestig dat alle materiaal verlede Vrydag verwyder is.
Die minister het sy dank en waardering teenoor die werkspanne uitgespreek wat die afgelope weke ononderbroke gewerk het om die rotsstorting op te ruim.
Dit beteken egter nie dat die pad onmiddellik begaanbaar was nie. In die verklaring sê Botes die pad kon nie dadelik oopgestel word nie as gevolg van skade wat aan die padoppervlak aangerig is en die risiko van nog rotsstortings.
Die ry betonblokke wat met die rotsstorting oor die pad geskuif het, word losgemaak sodat dit weer nader aan die rotswand verskuif kan word. Foto's: Hannes Visser
Met Oudtshoorn Courant se besoek verlede Vrydag is 'n gedeelte van die rotswand uitgewys waaroor kommer bestaan dat dit dalk mag meegee nadat al die los rotse verwyder is.
Dit beteken dat die rotshelling eers gestabiliseer moet word en die padoppervlakte herstel moet word voordat die pad oopgestel kan word.
Lees meer op susterskoerant, Oudtshoorn Courant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’