Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp het Dinsdagaand, 20 Junie, 'n groot seder verloor met die dood van die bekende boukontrakteur John Rossouw (78).
Rossouw, wat alombekend was as 'Jan Dag en Nag,' het ses dae na sy 78ste verjaarsdag in die Riversdal-hospitaal gesterf na 'n siekbed van twee weke. Hy is 'n paar maande gelede met pankreaskanker gediagnoseer.
Volgens sy jongste dogter, Sophia van Rooyen, was haar pa 'n baie hardwerkende man wat sy taak as bouer met passie beoefen het. "Vandaar die bynaam 'Dag en Nag' het sy hartseer gesê.
Sophia sê desondanks haar pa se status, veral onder sy werkers, was hy 'n baie sagte en nederige persoon wat nie maklik geweier het as hy om hulp genader is nie. Dit blyk uit die talle eerbetuigings op sosiale media.
Sy seun, Klaas Rossouw, ook 'n bouer wat die familietradisie voortsit, sê dat sy pa vele bouprojekte oor die distrik en die provinsie met groot lof voltooi het. Hy onderneem om met dieselfde passie en toewyding die tradisie voort te sit om sodoende sy pa se nalatenskap te laat voortleef.
Benewens Sophia en Klaas, laat hy nog 'n dogter, Maria, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 1 Julie om 09:00 by die huis in Burnsstraat en om 10:00 vanuit St. Barnabas Anglikaanse Kerk in Heidelberg plaas.
Die begrafnis is voorafgegaan met 'n troosdiens Woensdagaand by die kerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’