RIVERSDAL NUUS - Die griep van 1918 was die grootste epidemie wat die land tot in daardie stadium beleef het en Riversdal het ook verliese gely.
Dit het op die dorp met twee kuiergaste, een van Kaapstad en een van Port Elizabeth, begin.
Twee tydelike hospitale is opgerig. Eerwaarde Steven Wakefield van die Anglikaanse Kerk het veral na die bruin mense wat swaar deurgeloop het, omgesien. Hy is op 28-jarige ouderdom as gevolg van ooreising oorlede. Net soos nou, kon baie min mense sy begrafnis bywoon en slegs 'n gedenkdiens is gehou.
Tydens 'n munisipale vergadering op 28 Oktober 1918 is spesiale regulasies om die sogenaamde Spaanse Griep te bekamp, afgekondig. Daarvolgens moes bruin mense teen 19:30 binnenshuis wees. Ernstige gevalle is onder kwarantyn geplaas en 'n geel vlag is voor die huis gehys. 'n Spesiale komitee is ook aangestel om behoeftiges by te staan. Raadslede Gordon, Versfeld en Karremacher het op 'n komitee vir die tydelike hospitale gedien.
'n Maand later het die raad tydens 'n opvolgvergadering besluit om alle kerkdienste in die bruin gemeenskap te verbied. Alle kroeë is gesluit en winkels kon weeksdae slegs tot 13:00 oopbly en Saterdae tot 16:00. Hotelle mag net van 08:00 - 12:00 en van 14:00-18:00 sake gedoen het.
Die twee skoenfabrieke in Langstraat is ontsmet. Alle huise met griepgevalle moes ook agterna ontsmet en nuut afgewit word.
Geen vergaderings is toegelaat nie.
Dr Josias Daneel wat sy opleiding as dokter in Edinburgh, Skotland, voltooi het, is deur slegs een gekwalifiseerde verpleegster, suster Iverson en twee ongekwalifiseerde verpleegsters bygestaan.
'n Sopkomitee is gestig om die siekes van kos te voorsien. Mense het die kos per motor uitgedeel. Vroue is in 'n skedule vir sopkook ingedeel.
Na die dorp op 9 Desember 1918 swaar getref is, is 'n mosie van meegevoel met almal wat familielede verloor het, aanvaar. Huiseienaars is gewaarsku dat hulle self onder kwarantyn geplaas sou word, as hulle mense van aangetaste areas sou huisves.
Op 11 Julie 1919 het die griep weer uitgebreek en die Borcherds-gesin is onder kwarantyn geplaas.
Op 16 Julie besluit die raad op 'n spesiale vergadering niemand van buite mag die dorp sonder 'n permit binnekom nie. Die permit/ brief van 'n landdros of dokter moet verklaar die persoon was nie met besmette mense in aanraking nie. Spesiale wagte het mense by treine ingewag om te verseker hulle het die nodige permitte. Enigiemand daarsonder is vir agt dae onder kwarantyn geplaas.
•Louise du Plessis, kurator Julius Gordon Africana Sentrum /Versfeld-Huis
Vorige artikel: Griep se lang spoor
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'