STILBAAI NUUS - Die onlangse aankoop van twee plase langs die R305 deur die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling het gemengde reaksie in die Stilbaai-omgewing ontlok.
Terwyl die projek daarop gemik is om kleinskaalboere op 'n gestruktureerde en volhoubare wyse te hervestig, heers daar terselfdertyd toenemende onsekerheid en kommer onder inwoners oor die implikasies en uitvoering van die plan.
Die departement van landbou, grondher-vorming en landelike ontwikkeling (DLLRD) het onlangs twee aangrensende plase langs die R305, net ná die Stilbaai N2-afdraai aangekoop.
Gedeelte twee van die plaas Schoongeleë (656.8 ha) en die plaas Soebattersvlakte (331.84 ha) is aangekoop en hoewel geen besonderhede nog bekendgemaak is nie gaan een hektaar erwe blykbaar aan kleinboere beskikbaar gestel word, aldus die Stilbaai-gemeenskapsforum.
Volgens Hessequa-munisipaliteit is die plase aangekoop om 'n hofbevel uit te voer wat bepaal dat die kleinboere van Kwanonqaba (Mosselbaai) van munisipale grond hervestig moet word met die doel om 'n gestruktureerde, gereguleerde en volhoubare kleinskaalboerderygebied te skep.
Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling kan Hessequa se kleinskaalboere ook as begunstigdes oorweeg word, mits hul boerdery en diergetalle deur 'n verifikasieproses bevestig word.
Nie alle boere sal outomaties grond kry nie - die toewysing sal volgens 'n wetenskaplike en deursigtige plan geskied.
Die munisipaliteit het aanbeveel dat 'n openbare vergadering gehou word waar die departement die proses en kriteria aan plaaslike boere kan verduidelik.
Die munisipaliteit se rol is om die logistiek en kommunikasie te ondersteun, maar die finale besluit oor begunstigdes berus by die departement.
Hulle sê verder dat hulle die bekommer-nisse van gemeenskappe soos Slangrivier en Melkhoutfontein - ook die res van Hessequa-munisipale gebied - verstaan en daarom is dit belangrik dat die proses oop, regverdig en deursigtig verloop.
Op 7 April het die Stilbaai-gemeenskaps-forum en Stilbaai-sakeforum met die speaker van Hessequa-munisipaliteit en ook wyksraadslid van wyk 3, Tinus van den Berg, vergader.
Die doel was om saam met die munisipaliteit en ander belangegroepe te werk om 'n gesamentlike strategie te ontwikkel om die saak te hanteer.
Hulle wil alle beskikbare inligting insamel om die pad vorentoe te beplan voordat 'n ingeligte reaksie geformuleer word.
Die volgende inligting word tans deur die gemeenskapsforum en munisipaliteit gesoek:
- 'n Uitvoerbaarheidstudie wat die lewensvatbaarheid van hierdie kleinskaalboere, wat in Mosselbaai en omliggende gebiede woon, weerspieël.
- Wie verantwoordelik is vir die voorsiening van munisipale dienste soos water, elektrisiteit, riool, paaie, ensovoorts.
- Wie toesig sal hou en sal verseker dat aan die voorwaardes wat deur die Regering en munisipaliteit gestel is, voldoen word.
- 'n Implementeringsplan van die projek, met tydlyne.
Spesiale raadsvergadering
'n Subkomitee van die gemeenskapsforum sal die nodige inligting insamel en 'n formele reaksie aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook die munisipaliteit opstel.
Die Forum sê hulle verstaan ten volle dat dit groot kommer onder die inwoners van Stilbaai wek, maar hulle maan teen 'n emosionele en moontlike oorreaksie aangesien daar tans baie min feitelike inligting beskikbaar is.
Die voorsitter van die Stilbaai-belange-forum, Rachel Wall, sê dat hulle reeds sedert 28 Maart in samewerking met die Riversdal-sakekamer besig is met die aangeleentheid en hulle het verskeie vergaderings met individue van Hessequa-munisipaliteit gehou en hulle staan by die persverklaring van die munisipaliteit.
Verskeie individue in en om Stilbaai is baie bekommerd gesien in die lig van die swak geskiedenis van grondhervorming en die moontlikheid van 'n groot plakkerskamp weerskante van die R305.
Hessequa-munisipaliteit het 'n spesiale raadsvergadering belê wat vandag, 17 April, gehou sal word, waar 'n belangrike bespreking oor die voorgestelde hervestiging van informele boere vanaf Mosselbaai na die Stilbaai-omgewing sal plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’