RIVERSDAL NUUS - Pasiënte met ernstige beserings of toestand wat lewensbedreigend is, word eerste by die hospitaal se ongevalle-afdeling gehelp.
So verduidelik Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaap departement van gesondheid, aan wie 'n navraag gerig is na 'n leser op Suid-Kaap Forum se sosiale media sy mening daaroor gelug het.
"Dit spyt ons om te hoor dat 'n pasiënt ongelukkig was met die wagtyd by die ongevalle-afdeling," sê sy. "Volgens ons rekords was alle personeel vir die skof aan diens, maar was daar 'n groot aantal groen gevalle - pasiënte met nie-ernstige en nie-lewensbedreigende toestande - wat kon bydra tot die langer wagtyd."
Volgens haar word van die Triage-stelsel by noodeenhede gebruik gemaak.
"Dit beteken pasiënte word behandel volgens die erns van hulle beserings en nie noodwendig in die volgorde wat hulle opdaag nie."
Sy moedig pasiënte met nie-ernstige en nie-lewensbedreigende toestande aan om na hul naaste kliniek vir mediese sorg te gaan.
"Die pasiënt is welkom om die bestuur van die hospitaal te skakel indien hulle ongelukkig voel of vrae het."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'