RIVERSDAL NUUS - Met skole wat vandag heropen, bied die Wes-Kaapse regering van 21 tot 23 Julie gratis voertuigveiligheidskontroles aan vir skoolvervoer- en openbare vervoervoertuie.
Die inisiatief het ten doel om die veiligheid van leerders en pendelaars op die pad te verbeter.
Die gratis inspeksies sal daagliks van 08:00 tot 15:00 by Gene Louw-verkeerskollege en deelnemende voertuigtoetssentrums regoor die provinsie plaasvind.
In Hessequa sal die kontroles by die Hessequa-voertuigtoetssentrum, by Mulderstraat 48, aangebied word.
Die inspeksies is nie volledige padwaardigheidstoetse nie, maar praktiese veiligheidskontroles wat deur gekwalifiseerde voertuigondersoekers uitgevoer word.
Ná afloop van die inspeksie sal eienaars en operateurs ’n gedrukte verslag ontvang waarin enige gebreke of veiligheidskwessies uitgewys word sodat dit betyds herstel kan word.
Voertuie sal onder meer vir die toestand van bande, remstelsels, ligte, vering, CV-gewrigte, uitlaatstelsels, ruitveërs en ander kritieke veiligheidskomponente nagegaan word.
Volgens Maxine Bezuidenhout, hoofdirekteur vir verkeerbestuur by die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement, is die tydsberekening van die veldtog veral belangrik aangesien duisende leerders ná die skoolvakansie terugkeer skool toe.
“Vir baie gesinne is skoolvervoer ’n noodsaaklike diens waarop hulle daagliks staatmaak. Hierdie gratis voertuigveiligheidskontroles bied operateurs die geleentheid om moontlike veiligheidsprobleme vroegtydig op te spoor en reg te stel. Hoewel dit nie ’n padwaardigheidstoets is nie, is dit ’n belangrike voorkomende maatreël wat ’n betekenisvolle bydrae tot padveiligheid kan lewer,” het sy gesê.
Sy het alle skoolvervoer- en openbare vervoeroperateurs aangemoedig om van die gratis diens gebruik te maak en sodoende hul verbintenis tot die veiligheid van hul passasiers te toon.
Die Wes-Kaapse regering sê voorkomende voertuigonderhoud bly een van die doeltreffendste maniere om onklaarraking en voorkombare padinsidente te verminder.
Deur gebreke vroegtydig op te spoor, kan operateurs verseker dat die voertuie waarop duisende leerders en pendelaars daagliks staatmaak, veilig en betroubaar bly.
Gratis voertuigveiligheidskontroles
- Datums: 21 tot 23 Julie
- Tyd: 08:00 tot 15:00
- Plek: Hessequa-voertuigtoetssentrum, Mulderstraat 48, Riversdal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’