Update
RIVERSDAL NUUS - Drie grafiese kunsont-werpe in die Inheems-tienerkunskompetisie het die beoordelaars geïmponeer.
Die drie wenners is almal 14 jaar oud.
Die koninklike proteaspesie, 'n waterplas en 'n plakkaat van Hessequa was die beste inskrywings.
Monica Ferrer, van Stilbaai, is die wenner in die afdeling en sy het ook 'n meriete-sertifikaat in die tekenkategorie verwerf. Sy wen altesaam R1 200 in prysgeld.
Monica is in Frankryk gebore. Haar ouers, pa Stephane, en ma, Lila ('n nooi Du Preez en oud-Stilbaaier) het vier jaar gelede teruggetrek Suid-Afrika toe. Monica is vlot in Frans, Engels en Afrikaans.
Sy het op tweejarige ouderdom begin teken en het op elf digitale kuns begin beoefen. Sy het verlede jaar die eerste keer aan 'n uitstalling deelgeneem. Sy neem nou kunsklas by Clarabelle Joubert om haar tegniek te verbeter en ander mediums te verken.
Monica Ferrer by die twee kunswerke wat aan haar erkenning in die afdelings grafiese ontwerp en teken besorg het. Foto's: CJ de Swardt
Monica Ferrer se wen-inskrywing in die grafiese ontwerp-afdeling.
Monica het aan Suid-Kaap Forum vertel dit was haar eerste kunskompetisie.
"Ek het nie eens verwag om 'n finalis te wees nie. Dit was 'n groot verrassing om die eerste plek in die digitale kunsafdeling te wen. Die meriete-toekenning vir teken was 'n bonus. Ek is baie opgewonde hieroor en ek hoop om eendag 'n kunsloopbaan te betree," sê sy.
In Frans voeg sy daaraan toe: "Je suis reconnaissante pour mon talent, fière de ma prestation et ravie de la victoire des Boks en France."
In Afrikaans beteken dit: "Ek is dankbaar vir my talent, trots op my toekennings en verheug oor die Springbokke se oorwinning in Frankryk!"
Reine du Plessis, van Riversdal, se ontwerp met 'n treffende waterplas waarop sy haar koninklike protea plaas, skitter in vernuf. Sy wen R500.
Jadewin Heradien, ook van Riversdal, het besluit om 'n plakkaat van die omgewing se bakens te ontwerp.
Die beoordelaars was die kunstejoernalis Christiaan J de Swardt en die kunstenaars Marilise Lombard, Marisa de Lange, Janet Muller en Essie Fourie.
Reine du Plessis se protea in waterplas.
Altesaam 150 inskrywings deur hoërskoolleerders tot 19 jaar is in die vier afdelings - grafiese kuns, fotografie, skilder en teken - op 25 Oktober by die burgersentrum in Riversdal uitgestal. Daar was R9 000 se prysgeld op die spel.
Dié projek is deur die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR), Hessequa-kunsroete en Hessequa-biblioteke aangebied.
Jadewin Heradien se plakkaat.
Met dié tekening het Monica Ferrer ’n meriete-sertifikaat in die tekenkategorie verwerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’