Update
HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het by dr Patrick O'Neill op Albertinia gaan kers opsteek oor wat sy mening is oor die middel ivermektien, wat klaarblyklik as 'n geneesmiddel vir Covid-19 gebruik kan word.
Ivermektien word gebruik om wurms en parasiete by diere te bestry en dit is nie vir menslike gebruik in Suid-Afrika goedgekeur nie, hoewel dit tog in baie ander lande wel vir menslike gebruik geregistreer is.
Wat is u mening oor die middel?
Ek dink die ivermektien-molekule is nie gevaarlik nie, maar die bewyse of dit vir Covid-19 werk is nog baie min.
Dit is eintlik ook net anekdotiese bewyse en die studies wat wel gewig dra wat sover beskikbaar is, toon nie juis 'n positiewe uitwerking nie en te min om opgewonde te raak.
Daar is wel mense wat rapporteer het dat hulle met die gebruik daarvan vinnig beter geword het.
Die probleem in Suid-Afrika is dat ons nog nie daardie molekule in 'n orale preparaat het nie, slegs in 'n veeartsenykundige langwerkende onderhuidse preparaat.
Hierdie preparaat wat wel ivermektien bevat, is voldoende in diere nagevors, maar nog nie vir menslike gebruik nie.
Ons het tans geen idee oor die gedrag van die preparaat wanneer ons dit drink nie, met ander woorde hoeveel in die bloedstroom beland of waar dit uitgeskei word nie. Dit is baie kompleks en gaan nie net oor die molekule nie, maar ook in watter vorm dit die maag se slymvlies bereik, die invloed van kos en ander middels.
Met die gebruik van die dierlike preparaat kan twee mense dit sonder probleme gebruik, maar die derde kan dalk nie so gelukkig wees nie en kan dit 'n oordosis wees, omdat ons nie weet hoeveel van die middel ons teen die virus benodig nie.
Ek sê nie Ivermektien werk nie, maar ek sou eers wag dat dit in pilvorm in die land beskikbaar is, want dan weet ons dat dit veilig is. Ons ken die farmakokinetika van die aktiewe bestanddeel en die farmasie van die pilvorm.
Ek dink ook nie 'n mens moet dit voorkomend gebruik in die hoop dat jy nie Covid-19 kry nie. Dit is sinneloos, want jy kan dit dalk vir die volgende jaar moet gebruik.
Om die middel op jou vel te smeer help ook nie, want die opname in die bloedstroom is te wisselvallig en oneffektief omdat dit bedoel is vir onderhuidse inspuiting. Die belangrikste nog: Ek dink dis oneties om diere te skaad omdat mense onoordeelkundig besluit het om hulle produkte te gebruik.
My raad aan almal is om nie na strooihalms te gryp nie. Raadpleeg eerder deskundiges.
Baie mense kan vrees aanblaas en ongelukkig kan enigeen gespesialiseerde literatuur lees, hul eie afleidings maak en dit verkondig, veral op sosiale media.
U was self positief met Covid-19 getoets. Wat sou u aanbeveel?
Dit was begin Desember en ek het myself dadelik geïsoleer, soveel so dat my vrou nie eens positief was nie.
Die middels wat help is ondersteunend, soos vitamiene C en D. Sink en antibiotika is nodig. Een van die beste dinge om te doen is om jou vier keer per dag vir vyf minute op 'n keer te stoom - hou jou kop oor die wasbak met kookwater wat loop, of jy aan die beginstadium van die siekte is of nie.
Die meeste opnames is tussen dag vyf en sewe vanaf die begin van simptome, so ek stel voor dat die aanvullings, antibiotika, stoom en asemhalingsoefeninge van dag een af begin word. Ek vra my pasiënte ook om my twee keer per dag per boodskap te kontak sodat ons kan besluit of 'n huisbesoek nodig is.
Hoe voel u oor die inenting?
Die intenting teen die virus is nie 'n slegte idee nie, maar dit is wat my betref baie vinnig ontwikkel. 'n Mens sou ook wou weet hoe lank dit effektief sou wees.
Wat baat dit, ons kry die inenting en later kry ons net weer die virus. Ons hoop wel om met die inenting genoegsame immuniteit te kry en vir genoegsame tyd, sodat die viruskonsentrasie in die wêreld sal afneem.
Meeste persone wie die virus opgedoen en herstel het, plus die wat ingeënt is, het drie tot ses maande immuniteit wat sal help dat in daardie tydperk, die viruskonsentrasie so sal kan afneem, dat die "trop" wat ons almal insluit ook gesond kan word. En hopelik kan die virus dan "uitsterf".
Vorige artikel: Dokter praat oor ivermektien
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'