Update
RIVERSDAL NUUS - As die genealogie-gogga jou eers gebyt het, is dit tiekets.
"Wanneer my vrou saans televisie kyk, gaan klim ek op die 'boom'," sê Sias Coetsee, tesourier van die Suid-Kaap-tak van die Genealogie Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) wat in George gesetel is.
Coetsee, voorsitter Abrie de Swardt, ondervoorsitter Wilkie Barkhuysen en sekretaris Estelle Melvill het Maandagaand 14 Oktober 'n gespreksgroep van dié GGSA-tak in die personeelkamer by Hoërskool Langenhoven tot stand gebring.
Hulle het sowat 'n dosyn belangstellendes uit die dorp 'n voorsmakie gegee van wat dit behels om jou voorgeslagte se geskiedenis na te vors.
"Die boom waarna ek verwys, is natuurlik die stamboom van my familie," verduidelik Coetsee. "Maar dis nie net vir sit en vorms invul nie, dis soek en soek en soek... 'n Mens is jammer jy het nie opgelet en neergeskryf toe jou oupa en pa-hulle van die ou dae vertel het nie."
Barkhuysen het vertel hoe mens heeltemal in vervoering raak wanneer jy begin navorsing doen. "Jy weet wie jou pa en ma en grootouers is, maar daarna raak dit vaag. Jy wil weet waar hulle vandaan gekom het en veral hoekom en waarom hulle dáárdie pad in Suid-Afrika geloop het."
Melvill het vertel hoe sy deur navorsing meer oor haar voorvader Thomas Melvill geleer het, wat onder meer 'n walvisjagter in Skotland was en wat in Saldanha afgetree het. Sy behoort tot die sewende geslag van die gesin Melvill. Haar ma was 'n nooi Pauw en JC Pauw, na wie die skoolkoshuis by die hoërskool vernoem is, is haar oupa. Sy behoort tot die vierde geslag van dié stamlyn.
De Swardt, wat naas sy eie familiestamboom ook ander interessante inligting raakgelees het, het vertel van die 'mooie Angela van Bengale', wat die stammoeder van die Basson's van George was. Sy was 'n vrygemaakte slavin wat in 1667 'n erf aan die Kaap bekom het waar sy verskillende produkte verbou het. Sy het die produkte, soos wyn, met groot sukses aan die handelskepe verkoop. "Ons het 'n gemengde geskiedenis wat wyer as net die Hollanders, Franse, Duitsers en Britte strek."
Volgens Barkhuysen sien die GGSA daarna uit om alle mense van die land te kry om hul voorsate na te vors. "Praat met jou ouers en ander familielede. Daar is baie inligting op grafstene, bevolkingsregisters, sensusvorms, kieserslyste, in die kerke en museums." As jy hierdie stokperdjie wil begin beoefen is die beste plek die GGSA. Kontak Estelle Melvill by melvill.estelle@gmail.com vir meer inligting. Sodra jy aangesluit is, sal sy vir jou inligting per e-pos stuur wat jou op die regte spoor sal sit.
Maar onthou, as die gogga jou gebyt het, laat hy nooit weer los nie!
Abrie de Swardt en Louise du Plessis, wat Riversdal se skakelpersoon vir die Suid-Kaap tak van die GGSA is.
Van links: Wilkie Barkhuysen, Sias Coetsee, Estelle Melvill en Abrie de Swardt.
Lees 'n vorige artikel hier: Genealogie hou vreugde en verrassings in
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'