RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) doen ’n beroep op inwoners om hande te vat vir die ontwikkeling van die plaaslike jeug wanneer die projek, Ons Jeug - Ons Toekoms, op Donderdag 4 Junie aangebied word.
Die geleentheid vind om 18:00 by die Riversdal-burgersentrum plaas en fokus op die bevordering van positiewe waardes, dissipline en verantwoordelikheid onder jongmense.
Volgens Joe-Marie Heunis is die doel om die gemeenskap aktief te betrek by inisiatiewe wat ’n blywende verskil in die lewens van jongmense kan maak.
Sy het inwoners aangemoedig om die projek te ondersteun en saam te werk met Dennis Karelse se program, Dissipline begin by die Huis, wat daarop gemik is om gesinswaardes te versterk en ’n positiewe invloed op die jeug uit te oefen.
Verskeie gassprekers sal die aand optree, waaronder Stan Turketti, Kurt Olivier, Bradley Williams en Bradwin Daniels, wat hul ervarings en boodskappe van hoop en inspirasie met die gehoor sal deel.
Die organiseerders glo dat samewerking tussen ouers, gemeenskapsorganisasies en inwoners noodsaaklik is om ’n veiliger en sterker toekoms vir die jeug van Riversdal te bou.
Vir meer inligting kan Joe-Marie Heunis by 083 302 5392 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’