HESSEQUA NUUS - Pastoor Jephta February het Sondagoggend, 13 Maart net klaar gepreek, toe hy inmekaargesak en op die toneel gesterf het terwyl hy besig was om te bid tydens die erediens in die Christen Gemeentekerk op Slangrivier. Dit is volgens sy oudste dogter, Zandri February.
Die 60-jarige pastoor Jafta, soos hy bekendgestaan het, is na wat verneem word aan 'n hartaanval oorlede.
"Om die Here se werk te doen was my pa se hele lewe, en hoe gepas is dit om so in die Here se diens te sterf, al is dit baie seer vir ons as familie," het sy gesê.
February se vrou, Petronella (suster Maya) vertel hartseer dat hy baie vreedsaam in hulle as gesin en gemeente se teenwoordigheid gesterf het.
Volgens haar was hy glad nie siek nie en het ook nie aan enige hartkwale gely nie.
"Dit was vir my 'n groot skok toe hy daar inmekaarsak, maar ek berus my in die feit dat hy gesterf het in diens van die Here, waarvoor hy so passievol was," het sy deernisvol gesê.
Suster Maya is die ma van Theodore Jantjies, bekende akteur wat bekendheid as Xander in 7de Laan verwerf het.
Mense van oraloor het hulde aan die afgestorwe pastoor gebring en hul simpatie aan die familie betuig.
Jobieth Hoogbaard, Eden-distriksraadslid het gesê dat dit vir hom 'n groot eer was om tydens sy en rdl Gerald Boezak se besoek aan die kerk by February se laaste preek te wees.
Sy inskrywing lui: "Pastoor Jephta February, alles is nog so onwerklik, die een oomblik is jy nog besig om te bid en die ander oomblik verlaat u ons. Ek het die voorreg gehad om onder u laaste preek te sit, pastoor. Daar is een iets wat ek uit vanoggend se diens geneem het en dit is om te weet met wie jy te doen het (God)."
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles het gesê dat hy met groot skok en hartseer van February se dood verneem het. "Ek wil my innige meegevoel en medelye met sy gesin, familie en die Christen Gemeentekerk van Slangrivier uitspreek. My hart bloei vir julle as gesin."
February laat sy vrou, drie dogters, twee seuns, vier broers en twee susters agter.
Die begrafnisdiens vind Sondag, 20 Maart om 10:00 vanuit die plaaslike Christen Gemeentekerk plaas. Die troosdiens het Donderdagaand, 17 Maart vanuit dieselfde kerk plaasgevind.
Wyle pastoor Jephta February.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'