Update
STILBAAI NUUS - Die sluiting van die FNB-tak in Stilbaai het vir heelwat beroering gesorg en veral op Facebook is hulle fel gekritiseer.
Aubrey Page het in 'n WhatsApp-boodskap aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy bitter ontstoke is oor FNB se skuif na die Riversdal-tak toe.
Die feit dat daar geen OTM meer in Stilbaai is nie beteken dit dat mense nou Riversdal toe moet gaan en nie almal het eie vervoer nie. Geld vir 'n buskaartjie is daar ook nie.
Volgens hom is baie pensionarisse nou tussen die boom en die bas en hulle voel gedwing om maar na 'n ander bank te skuif. Hy sê ook dat nie almal hulle besigheid aanlyn kan doen nie. Hulle wil ook graag nog die mense wat verantwoordelik is vir hulle bankdienste in die oë kyk.
Lee-Anne van Zyl FNB se hoof- uitvoerende beampte vir verkooppunte (Points of Sale) het die situasie as volg verduidelik:
FNB evalueer sy netwerk van takke en OTM's op 'n gereelde basis as deel van hulle verbintenis om kliënte te help met hulle behoeftes.
Sy sê verder dat die bank altyd hulle kliënte in kennis stel wanneer hulle besluit om 'n tak te sluit om sodoende so min as moontlik ontwrigting te veroorsaak.
FNB het 'n mobiele OTM geplaas by OK Foods in Stilbaai op Donderdag 11 Mei. Dit sal later opgevolg word met 'n permanente OTM by OK Foods, wat dan die mobiele OTM sal vervang.
Van Zyl sê dat dit alles deel is van hulle poging om seker te maak dat hulle gewaardeerde kliënte kan voortgaan om hulle dienste te kan gebruik. Hulle wil egter al hulle kliënte aanmoedig om gebruik te maak van die FNB-toepassing asook aanlyn- en selfoonbankdienste.
Laastens sê sy dat FNB die deurlopende ondersteuning van hulle kliënte in Stilbaai waardeer.
Peet van Staden van Stilbaai Spar is uiteraard baie teleurgesteld dat FNB nie meer op sy voorstoep is nie, maar dit wat FNB wou doen het nie ingepas by die sentrum nie en die eienaars van die sentrum, Anglo Africa, het besluit dat FNB nie gehuisves kan word nie.
Volgens Corné von Molendorff van OK Foods het FNB wel met hulle onderhandel om die mobiele OTM by die agterste ingang te plaas. Die permanente OTM sal op die voorstoep aan Hoofweg-Wes se kant geïnstalleer word. FNB wil dit in twee maande se tyd voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’