RIVERSDAL NUUS - Wat as 'n ontspanne visvangdag begin het, het vir Riversdal-inwoner Calvin Phillip Abrahams (65) in 'n opwindende stryd met 'n indrukwekkende elf van 77 cm ontaard.
Abrahams en sy vriende het op 21 Maart hul lyne by Gourits natgemaak toe die groot oomblik omstreeks 11:00 aangebreek het.
Met 'n 5.0-hoek, visaas en tjokka as aas, het hy op die draai van die gety vasgeslaan.
Ná bykans 30 minute se gespook het hy uiteindelik die silwervegter uit die water gelig.
Abrahams, 'n afgetrede onderwyser, is geen vreemde-ling vir kompetisie nie.
Hy was deur die jare aktief in rugby, krieket, potspel en tennis, en het Riversdal op verskeie vlakke verteenwoordig, met provinsiale bekers in al dié sportsoorte op sy kerfstok.
Sy liefde vir visvang het egter heel toevallig begin.
"'n Vriend het my eendag op skool genooi om saam te gaan visvang. Ek het niks daarvan geweet nie en nie eens 'n hoek besit nie.
Daardie dag het ek my eerste kolstert gevang - en van toe af was ek gehook," vertel Abrahams.
Vandag is visvang sy grootste stokperdjie.
"As die weer saamspeel is ek daar," sê hy.
Hy en 'n groep vriende hou een keer per maand 'n sosiale visvangkompetisie, en dit was tydens so 'n geleentheid by Haaibaai in Gourits dat hy dié indrukwekkende elf geland het.
"Toe die vis byt en ek sien dis 'n elf, het die adrenalien behoorlik begin pomp.
Ek het amper 'n halfuur gespook om hom in te kry en het later krampe in my arms gekry," lag hy.
Volgens Abrahams was dit die grootste vis van die dag, en hy is besonder trots op sy vangs.
Hy glo die geheim lê in die regte kombinasie: "Visaas en tjokka saam - dit werk elke keer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’