STILBAAI NUUS - Tydens die onlangse Allegretto Eisteddfod in Stilbaai het die 13-jarige Lian Louw sy indrukwekkende Elvis-versameling, Lego-treinstel en verskeie ander inskrywings uitgestal.
Dit was veral sy Elvis-uitstalling wat die aandag van baie besoekers getrek het. Die versameling het ook vir Marius Lourens, hoof-uitvoerende beampte van die Allegretto Eisteddfod, so beïndruk dat hy sy eie Elvis-memorabilia aan Lian geskenk het.
Lian het sy Elvis-versameling vroeër ook by die Stilbaai Aktiwiteitsekspo uitgestal. Daar het hy trots vertel dat hy reeds 49 lang- en kortspeelplate van Elvis besit. Volgens sy ma, Marlé, het hy op 5-jarige ouderdom al begin versamel. Plate met sy tandemuisgeld gekoop. Met die jongste skenking het sy versameling nog verder uitgebrei.
Sy vele talente sluit ook kitaarbegeleiding in en hy was heel gepas dan ook die provinsiale wenner met sy vertolking van Bad Moon Rising.
Lian, 'n trotse leerling van die Hoërskool Langenhoven in Riversdal, het verkies om sy optrede in sy skooluniform te doen - 'n gebaar wat sy skooltrots duidelik weerspieël het.
‘Ons bring jou die nuutyaqste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’