STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Besigheidsforum se sektorontbyt vir eiendomsrolspelers het Vrydag 24 Julie by Rijké byna 90 belangstellendes gelok vir 'n insiggewende gesprek met verteenwoordigers van Hessequa-munisipaliteit.
Ná die groot belangstelling en positiewe terugvoer op die forum se eerste sektorbyeenkoms met eiendomsagente, is die uitnodiging hierdie keer uigebrei na die breër gemeenskap van eiendomsrolspelers.
Volgens Rachel Wall, voorsitter van die Stilbaai Besigheidsforum, is die eiendomsektor die grootste ekonomiese sektor in Stilbaai en speel dit 'n sleutelrol in die dorp se groei en ontwikkeling.
Die twee gassprekers van Hessequa-munisipaliteit, Hendrik Visser en Christo Hamman, het die tema: "Wat moet eiendomsrolspelers weet?" behandel. Hulle het waardevolle inligting gedeel oor plaaslike ontwikkeling, munisipale beplanning, boubeheer en ander sake wat die toekoms van Stilbaai en die plaaslike eiendomsmark beïnvloed.
Die aanbiedings het talle vrae beantwoord en deelnemers met groter duidelikheid oor belangrike ontwikkelingskwessies huis toe gestuur. Die geleentheid het ook geleentheid gebied vir konstruktiewe gesprekke tussen die munisipaliteit, die Besigheidsforum en rolspelers in die eiendomsektor.
Voor die verrigtinge het Marijké Kleynhans en haar span gaste met heerlike eetgoed, koffie en tee bederf. Ná afloop van die gesprek is geurige botterskorsie-, biltong- en dik groentesop saam met vetkoekvingers voorgesit.
Die Besigheidsforum sê inwoners kan gerus wees dat die vennootskap tussen Hessequa-munisipaliteit, die forum en die plaaslike eiendomsrolspelers daarop gemik is om verantwoordelik saam te werk tot voordeel van die hele Stilbaai- gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’