RIVERSDAL NUUS - Die bekende sakegebou in Dicksonstraat langs Absa-bank is gedeeltelik gesloop om herbou te word om vir ’n nuwe hoender kitskosonderneming plek te maak.
Die gebou is in 1907 vir die handelsfirma C. Searle & Co van Groot-Brakrivier opgerig.
Dié maatskappy se fabriek het skoene vervaardig en teen 1908 was daar reeds winkels in dorpe soos Mosselbaai, Oudtshoorn en George opgerig om hul gesogte produk te versprei, maar ook as algemene handelaar.
Die maatskappy raak egter bankrot en die handelsaktiwiteite word in 1922 deur die maatskappy van Max Sonnenberg, handeldrywend as Sonnenbergs, oorgeneem.
Die bouer was William Richard van As, gebore in Ladismith. Hy was met Martha Elizabeth Rossouw getroud.
Uit die huwelik word ’n seun en dogter gebore, Francois en Alida. Van As is op 22 Oktober 1934 oorlede. Hy besit die plase Snymanskraal en Zoutpan.
Sonnenberg word deur Bayman en Roberts oorgeneem. Charlie Bayman bedryf later die besigheid.
In 1980 koop Riaan Saayman en sy vrou, Sandra, wat reeds Sentrale Melkery in Van den Bergstraat bedryf, die gebou.
Die egpaar bedryf Koop en Geniet supermark uit die gebou, asook Saiko vrugte en groente groothandelaars.
Saiko verskaf hul produkte aan skole, ouetehuise en winkels wat hul by die Kaapse mark in Epping aankoop.
Riaan sterf in ’n vragmotorongeluk in Oktober 1984 op 37-jarige ouderdom en later word ’n boumateriaalwinkel uit die perseel bedryf.
Die perseel word later in drie verhuurbare eiendomme verdeel en daar is vandag ’n apteek en klerewinkel in die gebou geleë.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'