RIVERSDAL NUUS - Konstabel Edwin Kortje is Vrydagaand by die die polisie se nasionale toekenningsgeleentheid in Midrand as die tweede beste reservis in Suid-Afrika aangewys.
Kortje is vroeër vanjaar in Kaapstad by die Wes-Kaapse provinsiale toekennings as die beste reservis in die Wes-Kaap aangewys.
Lt. kol. Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder in Riversdal, sê Kortje is enig in sy soort en beteken baie vir Riversdal se polisiestasie en die breë gemeenskap.
"Hy is 'n groot steunpilaar en staatmaker en hy maak 'n groot verskil in die gemeenskap."
Kortje se koordineerder, sers Garnet Damans, sê hy is net so trots op Kortje.
"Dit is nie almal wat so 'n prestasie behaal in die lewe nie en kan Kortje homself 'n klop op die skouer gee vir sy waardevolle bydrae hier plaaslik. Sy soort is maar dun gesaai en hy maak mens trots om in diens van die polisie te wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’