Gallery
RIVERSDAL NUUS - 'n Droom het vir meeste werknemers op Donderdag 6 September waar geword tydens Droom se algemene jaarvergadering en toekenningsaand.
Johan Oosthuizen het tydens die opening die bestuur geloof omdat hulle so baie vir die inwoners met beperkte finansies doen.
Chris Veldsman, bestuurder, het die voorlegging van die jaarvergadering behartig. Verbeterings wat aan albei tehuise aangebring is, is voorgelê, sowel as onbeplande uitgawes. Dié uitgawes sluit 'n hittepomp wat gebreek het in.
Hy het gesê: "Alles wat ons beplan het om te doen kon ons bereik. Ons het 'n betroubare en sterk span wat goed saamwerk."
Volgens die staat se regulasies moes die waskamer aangepas word. Dit is reeds klaar en in werking.
Ander projekte wat voltooi is, is die beveiliging van Jan Lange-tehuis se voorkant waar palissades opgerig is, palissadehek by die afleweringsingang, verf van dakke by Ou Meule en die Boel van Wyk-huis is in 'n tehuis verander.
Bestuur het beplan om ten minste een verpleegsuster aan te stel, maar het twee aangestel.
Die hoogtepunt van die aand was toekennings wat aan hardwerkende personeel toegeken is.
Geen siekteverlof vir drie jaar, is aan Melody Veldsman, Lameeza Adams, Ephraim Pietersen en Hazel Ponto toegeken.
Coreen Victor neem dit nog 'n stappie hoër en ontvang 'n toekenning vir geen siekteverlof vir vyf jaar.
In die verpleegafdeling ontvang Portia Kleinhans 'n langdienssertifikaat vir 10 jaar diens en Katrina Smit vir 20 jaar.
Langdienssertifikate in die Home Community Base Care afdeling vir 10 jaar is aan Elvinia Heneke, Monica Jansen, Katy Longwe, Hayley Vaaltyn en Hannelie Heneke toegeken.
Marthie Norden van Ou Meule-woonstelle en Tienie Janse van Rensburg van Tehuis Jan Lange is as Droom se inwoners van die jaar aangewys.
Ephraim Pietersen en Debbie Adams deel vanjaar die Bravo-diensbaarheidtoekenning.
Stafverpleegster Betsie Wessels ontvang die verpleegster van die jaar toekenning. Dit staan as die Drug: Diensbaarheid, Rentmeesterskap, Uitnemendheid en Geregtigheid-toekenning bekend.
Hierdie wernemers het toekennings vir geen siekteverlof vir drie en vyf jaar ontvang. Van links is Melody Veldsman (3), Joslene de Wet (beheerraadslid), Lameeza Adams (3), Ephraim Pietersen (3), Coreen Victor (5) en Hazel Ponto (3).
Meeste maatskappye het 'n personeellid wat die ekstra myl sal loop, maar min het 'n toekenning daarvoor. Judith Domingo van Home Base Care is vanjaar gekies as die werknemer wat die ekstra myl loop.
Johan Esterhuizen en Warren Keizer, beide van die onderhoudsafdeling het vanjaar met die Veldsman-wisseltrofee weggestap.
Met die tema, Toeka tot Nou het Gert van Tonder as gaskunstenaar opgetree en gaste het met liedjies soos Sproetjies, Hantamberge en die Ou Kraal-liedjie saamgesing.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'