RIVERSDAL NUUS - Agter Droom se sukses staan mense wat jaar ná jaar met toewyding en 'n hart vir ander hul deel doen - en tydens vanjaar se algemene jaarvergadering (AJV) was dit juis húlle wat in die kollig gestaan het.
Die AJV is op 7 September in Riversdal gehou en het personeel, bestuurslede, inwoners, ondersteuners en vriende van Droom byeengebring vir 'n aand van terugkyk, dankbaarheid en erkenning.
Met 'n Griekse tema as agtergrond is daar nie net oor die afgelope jaar besin nie, maar ook hulde gebring aan personeellede vir hul jare lange diens en besondere bydraes.
Die bekende sangpaar Wynand en Chereé Strydom het vir die aand se vermaak gesorg en met hul musiek tot die feestelike atmosfeer bygedra.
Eloize Scrooby het die Bravo-toekenning ontvang, terwyl Hannelise Francies met die HCBC Ekstra Myl-toekenning vereer is.
Mary-Ann Jacobs, Hannelise Francies en Venita Fielies is elk vir 20 jaar diens vereer.
Sewe personeellede - Elaine Swart, Debbie Adams, Johan Esterhuizen, Semanthia Pieters, Ruyonde Makriega, Davoneuq Erasmus en Joy-Mare Buis - het erkenning vir 10 jaar diens ontvang.
Twee personeellede se merkwaardige bywoningsrekords is ook uitgesonder.
Marlene Scheepers het sedert 2023 geen afwesigheid aangeteken nie, terwyl Monica Jansen sedert 2017 geen afwesigheid gehad het nie.
Droom het die ontvangers gelukgewens en hulle bedank vir hul lojaliteit, harde werk en toewyding.
Die organisasie het ook sy waardering uitgespreek teenoor elke personeellid, bestuurslid, inwoner, ondersteuner en vriend wat tot Droom se werk en voortgesette groei bydra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’